1 Petrus 3:8-11 is regtig treffend. Die praktiese raad aan ons vloei
golf na golf na ons toe, om ons te help om God se wil uit te leef.
Doen ons nog prakties in ons lewe soos God van ons vra?
Kyk net na vers 9: “As iemand lelik teenoor jou optree, moet jy nie op
jou beurt lelik wees nie. Hou jou skerp tong in, al beledig iemand jou.
God het julle die spesiale opdrag gegee om liewer mooi te praat van
ander mense en om God te vra om vir hulle goed te wees.”
Kyk, ons weet mos nou hoe ons optree as iemand ons sleg behandel...
Ons kom net terug na hom toe in oortreffende trap! Ons tong is net
nog veelvoudig meer skerper! En ons beledig nog erger. Dit is soms
verbasend om te hoor hoe iemand met smaak vertel hoe hy of sy
iemand op hulle plek gesit het na ‘n verkeerde woord of daad.
Hierdie teks uit 1 Petrus konfronteer ons met ons optrede.
Dit lig die feit uit: “God het julle die spesiale opdrag gegee om liewer
mooi te praat van ander mense...” Dan gaan die teks verder:
“... en om God te vra om vir hulle goed te wees.”
Hierdie woorde uit die Woord van God tref ons soos ‘n hamerhou.
Dit is asof Petrus ‘n spyker inslaan en dit omklink! Dit moet nooit
verlore gaan nie: God gee julle die spesiale opdrag! Praat mooi met
ander mense wat jou sleg behandel... en vra God om goed te wees
vir hulle! Dit is radikaal!
Dit vra inderdaad baie van jou om op te staan en nie een slegte woord
teen ‘n ander persoon te sê wat jou sleg behandel het nie. Gewoonlik
het ons gedink as jy maar stilbly, is jy ruggraatloos wanneer jy toelaat
dat ander “op jou trap”. Nou sien ons dit vra groot moed om te doen
wat God vra, en dat die oorwinning by verre daarin lê. Om die opdrag
van God uit te voer is baie meer oorwinnend as om net met slegte
woorde en dade terug te kap. Jy verdien nie net respek nie, maar
verteenwoordig God in die omstandighede!
Die opdrag om God te vra om vir hulle goed te wees voel soos nog
hoër graad! Maar dit kom ook met ‘n belofte in vers 9: “As julle dit doen,
sal julle ook van God al die goeie dinge kry wat Hy beloof het.”
Onthou: God vra niks van jou wat Hy nie vir jou moontlik maak
om dit vir Hom te doen nie! Gaan doen dit!
Ernest