Ons sal nie Christenskap kon adverteer as dat dit altyd net beter sal
gaan nie. Dat die voorspoed jou sal verveel nie, soos party mense sê.
Of dat jy nooit probleme sal ondervind die dag as jy ‘n kind van God
word nie. Die werklikheid is anders. Ons weet dit. Ons voel dit dikwels
aan ons lyf. Kinders van God kry nie spesiale behandeling in hierdie wêreld
nie. Ons word verseker nie in watte toegedraai nie.
1 Petrus 3:12-14 sê in Die Boodskap se vertaling: “As julle regtig probeer
om goed te leef, sal mense julle gewoonlik nie sleg behandel nie. Maar as
julle moet swaarkry juis omdat julle doen wat reg is, is julle eintlik gelukkig.
Moet net nie vir mense bang word en die kluts kwytraak nie.”
Dit is ‘n moeilike ding wat hier gesê word. Ons het begrip daarvoor wanneer
ons droogmaak en dan swaarkry as gevolg daarvan. Maar hierdie klink nie
op die oor af reg nie... Hoekom kan ek gelukkig wees om swaar te kry as ek
juis swaarkry omdat ek doen wat reg is?
Die Engelse vertaling van The Message sê: “... even if you should suffer from
what is right, you are blessed.” Te midde van swaarkry, juis ook omdat ons
doen wat reg is, kan ons weet dat ons God se verteenwoordigers daarin is,
en daarom geseënd is!
Dit is dalk nie nou vir ons maklik nie. Inteendeel. Dit is dikwels baie moeilik
om ‘n kind van God te wees, te getuig, en te staan vir reg en geregtigheid.
In die hemel is daar egter feeste wat vir altyd sal voortduur omdat ons goed
doen ter wille van die Here, al kry ons swaar. Wees dus voorbereid op teenstand.
Wees voorbereid daarop dat die wêreld dit nie vir Christene maklik maak nie.
Hou vas aan God.
Ons sien nie altyd die volle prentjie in ons omstandighede nie. Eendag sal ons
sien hoe God elke keer met ons die pad gestap het ter wille van die eer van
sy Naam, en die uitbreiding van sy koninkryk.
Hou net aan om goed te doen, ten spyte van teenstand.
Jy doen dit van harte vir die Here, en nie vir mense nie.
Ernest