Wanneer ‘n mens ongeërg toelaat dat iets aan jou bly skuur,
op dieselfde plek aan jou lyf bly skuur, en skaaf, en druk,
dan vorm daar later ‘n eelt.
En die plek raak gevoelloos.
Omdat die gevoeligheid weg is,
kan jy selfs ‘n naald daar indruk, en niks voel nie.
So is dit ook dikwels met ons wat die evangelie oor en oor hoor.
Ons begin maklik ons gevoeligheid daarvoor verloor.
Ons dink ons het dit nou al soveel keer gehoor,
ons weet presies waaroor dit gaan.
Maar ons “voel” dit nie meer nie.
Niks maak meer indruk nie.
Ons praat oor ‘n preek wat “goed” of “sleg” is,
maar die evangelie raak nie ons lewe nie.
Dit is daarom dat God Jesaja vooraf inlig,
juis oor wat die mense se reaksie op sy preek gaan wees!
Hy sê in Jesaja 6:9:
“Gaan sê vir hierdie volk: “Julle sal hoor en hoor,
en tog sal julle niks verstaan nie,
en kyk en kyk en tog niks sien nie.”
Ons gevoeligheid raak weg.
Om te gaan liefhê, om te gaan vergewe,
om te gaan dien, om te gaan hulp verleen in nood,
om net regtig om te gee,
al die baie boodskappe….,
dat God deur sy Gees ons lewe wil beheer,
word uiteindelik eelte, in plaas van dade!
Ons word minder sensitief, in plaas van meer sensitief.
Ons doen minder in plaas van meer.
Ons laat die Woord en wil van God maar oor ons skuur en skaaf,
totdat dit eelte word.
En so doen ons dieselfde as die kerkmense in Jesaja se tyd.
Hoor jy nog die Woord van God?
Hoor jy God?
“Voel” jy nog die evangelie.
“Sien” jy nog?.... saam met God!
Gaan dit oor in ‘n lewe vir God?
Regtig?
Ernest