Wanneer dit oor gawes en talente gaan moet die eie ek maar
ver terugtree. Ons het dit in die eerste plek gekry om God
daarmee te verheerlik. Lees met aandag en begrip die volgende
verse van 1Petrus 4:10-11:
“...Moenie dink dit is julle wat so goed is nie. Nee, dit is God wat
eintlik so goed vir julle is. Daarom moet julle julle talente gebruik
om ander te help. Soos iemand wat in ‘n huis aangestel is om ander
te bedien, moet julle in God se geestelike huis al die wonderlike
gawes onder mekaar uitdeel wat Hy vir ons gegee het sonder dat
ons dit eintlik verdien. Byvoorbeeld, as een van julle preek moet dit
wees asof God deur hom praat. As iemand ‘n ander persoon help
wat hulp nodig het, moet hy dit doen uit die krag wat God hom sal gee.
Op die manier sal almal God se grootheid kan sien en sal Hy die eer vir
alles kry, omdat Jesus dit vir ons moontlik gemaak het om al hierdie
dinge te doen. Almal sal Hom erken as die Een wat in alles groot en
sterk is, nie net vandag nie, maar vir ewig en altyd.
Daarvan kan julle seker wees.”

Nêrens in hierdie gedeelte is ekself die voorwerp of die onderwerp nie.
Dit gaan oor God die Skepper, en oor Jesus die Verlosser. Net God moet
verheerlik word in dit alles. Mense sien dan vir God raak. Nie vir ons nie.
Mense word na God gelei deur God self wat deur my talente werk!
Dalk is dit die rede waarom baie mense nog nie hul eie talente en gawes
ontdek het nie. Hulle wil dit vir hul eie eer of voordeel aanwend. Onthou,
God is die Skepper van jou talent! Al werk jy hoe hard daarmee, al oefen
jy hoe hard daarmee, God het dit vir jou gegee. Hy kom die eer toe.
Nie net die eervolle vermelding nie!

Jy is verder met gawes en talente toegerus sodat ander mense daarby
baat kan vind. God gee jou talente om ander te dien wat nie jou talente
ontvang het nie, en dit nodig het. Meer nog: God het sy gawes en talente
aan jou gegee om dit te oefen en te beoefen sodat dit nog sterker en
bruikbaarder in sy diens kan wees. Moenie jou talente “begrawe” nie!
God wil groot impak maak deur dit waarmee Hy jou geseën het!
Jy sal verbaas staan om te sien hoe God deur jou werk as jy jou talente
en gawes tot sy eer aanwend en Hom daarmee bo alles eer!

Ernest