Dit gaan soms regtig baie swaar met God se kinders. Regtig swaar!
Dit voel of ons aan die einde van hulp en sin gekom het. Die feit is dat
God nie dan skielik elders te besig geraak het nie! Hy is steeds volledig by jou.
Ons moet dus vertrou! Dit is ‘n eenvoudige woord, maar dit vra só baie.
Om regtig vir God onvoorwaardelik te vertrou. En tog, doen dit eenvoudig
met groot sekerheid dat dit nie verniet is nie.

1 Petrus 4:19 stel dit so: “As ‘n mens al dié dinge in gedagte hou, moet
die mense wat swaarkry omdat dit deel van God se plan met hulle is,
Hom heeltemal vertrou met wat in hulle lewe gebeur. God het hulle
immers gemaak en sal hulle nie in die steek laat nie. Hulle moet net op
die regte pad bly deur goed te doen.”

Treffend se Petrus hier dat ons God heeltemal moet vertrou met wat in
ons lewe gebeur, al is dit hoe swaar. God sal ons nie in die steek laat nie.
God is elke oomblik by jou, ook in die diepste swaarkry. Vertrou Hom!
Wanneer alles rondom en in jou lewe intuimel, hou vas aan God. Vertrou
Hom ook om jou op die regte pad terug te bring. Want God is op pad met
jou na sy doel met jou! God werk met ‘n lang plan. God is nie haastig nie.

Onthou ook dat God jou gemaak het, sê Petrus. Met ander woorde,
Hy weet waar ons grense is. God sal jou nie oor ‘n grens druk wat jy nie
tot sy eer kan hanteer nie. Hy skaaf ook nie net aan jóú nie, maar werk
deur jou met mense rondom jou. Jou getuienis en optrede is jou getuienis
van God se grootheid en goedheid ten spyte van jou omstandighede.
Hoeveel keer het ons nie al buitengewoon gegroei deur sulke mense se
getuienis van God teenoor ons nie! God weet tot waar om jou te neem
om by die punt uit te kom waar Hy jou wil hê. Hy sal daarmee volhard
sodat weerkaatsing van sy beeld in jou al duideliker sal word.
Dit gaan uiteindelik oor God, nie oor my nie.

Let ook op Petrus se laaste woorde in bogenoemde teks:
Ons “... moet net op die regte pad bly deur goed te doen.” Doen in jou
swaarkry die regte ding. Stap die regte pad. Dit begin deur op God te
fokus en dat Hy sy doel deur jou sal bereik, en nie op jouself en jou gerief
of gebrek aan emosionele of fisiese pyn nie.

Vertrou! Vertrou regtig net God met die fynste detail van jou lewe.
Vertrou Hom!

Ernest