Die mens se grootste vyand is jyself! Ons fokus so op onsself dat
ons dikwels nie goeie perspektief het nie. Die grootste vraag is dikwels:
Wat kan ek hieruit kry?
Ons staan selde terug en dink eers aan die ander. Dit is juis die groeiplek
van sonde. Die eie ek. Ons almal ken die mense wat net heeltyd oor
hulleself praat en jou emosioneel moeg maak. Hulle kom nie eers agter
dat hulle vriende verloor nie, so is hulle op hulself gerig.
Dalk moet elkeen van ons weer ‘n slag introspeksie gaan
doen en ontdek hoe belangrik ons vir onsself geraak het...
1 Petrus 5:5 praat hieroor: “... Julle moet mekaar help waar hulp nodig is
sonder om te vra wat dit julle gaan kos. Moenie te veel van julleself dink nie,
maar ken liewer julle plek. Daar staan mos geskryf: “God is nie aan die kant
van mense wat te veel van hulleself dink nie; Hy is goed vir mense wat tevrede
met hulleself is sonder om windmakerig te wees.”
Mense wat “windmakerig” is saai sommer gou verwoesting in die lewe van
mense rondom hulle. Stil mense kan net so ewe maklik vir hulleself te belangrik
raak. Baie keer is hulle juis stil omdat hulle hier binne dink hulle is beter as ander
en hulle veroordeel en beoordeel hulle met hul eie “stil” maatstawwe.
Petrus sê die belangrike is om eerste die ander persoon in die visier te kry.
Ons moet daarop gerig wees om ander eerste te stel en hulle te help. Wanneer
jy ander help doen jy nie eers bestekopname van hoeveel tyd, of geld, of moeite
dit jou gaan kos nie. Jy doen dit net! Jesus het nooit gaan sit en uitwerk wat dit
Hom regtig gaan kos om jou te red nie. Hy het eenvoudig, gehoorsaam aan sy
Vader in die hemel, gedoen wat Hy moes doen. Al was dit hoe swaar.
Hoeveel fokus ons op onsself, en hoeveel fokus ons op ander mense?
Ons moet erken: Die wêreld draai vir die meeste mense net om hulleself,
en nie om die son of om sy eie as nie.
Ons het nou Jesus se bediening op aarde geraak. Sy voete, hande, oë, ore en veral
sy gesindheid! Hy het self gesê dat Hy ons stuur soos die Vader Hom gestuur het.
As ons hiermee sukkel moet ons doen wat Petrus in vers 6-7 sê:
“Plaas julle hele lewe in die hand van God, in totale afhanklikheid van Hom.
Wanneer die tyd daar is, sal Hy julle ‘n ereplek by Hom gee. Neem al die dinge
waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is
die een wat vir julle sorg.”
Wanneer jy jou hele lewe in God se hand plaas, soos Petrus hier sê, en in totale
afhanklikheid van Hom leef, sal God op sy tyd aan jou ‘n ereplek gee.
Jy hoef dit nie vandag op aarde reeds uit jouself en ter wille van jouself te doen nie...
Moenie te veel van jouself dink nie. Word minder,
sodat Jesus meer in jou kan word!
Ernest