1 Petrus 5:8-9: “In die geestelike stryd moet julle op en wakker wees.
Julle het ‘n gevaarlike vyand, die duiwel. Hy loop rond soos ‘n honger
leeu wat iemand soek om te verskeur. As hy julle aanval, moet julle
met julle geloof in die Here terugveg. Moenie toelaat dat hy julle
geestelike fondament skud nie. Laat dít vir julle ‘n troos wees:
daar is Christene oor die hele wêreld wat as Christene dieselfde
dinge as julle ly omdat hulle dieselfde stryd as julle stry.”
Die duiwel probeer deurentyd ons geestelike fondamente skud en
dan hoop hy ons sal ons verhouding met die Here eers op die ys sit.
Die duiwel volhard hiermee in die hoop dat ons sal moeg raak, ons
weerstand sal afneem, en ons dan sal ingee. Menslik gesproke raak
ons net só moeg vir baklei. Die probleem is dat ons dit dan uit eie
krag doen. Ons moet regtig in God se krag volhard en gedurig op en
wakker bly. Ons moet terugveg met ons geloof in die Here, sê die
bogenoemde teks.
Iemand het gesê: Die brullende leeu loop rond, maar sy tande is by
die kruis getrek. Hy maak steeds ‘n hewige geraas, maar ons hoef nie
meer te sidder nie. Die dood se angel is by die kruis getrek.
Feit is, ons moet steeds weet wie ons teenstander is dat hy steeds
poog om ons te laat struikel tot die dood toe. Keer die aanvalle van
die duiwel bewustelik af. Hy is slinks. Hy sit jou eers net langs die spoor.
Net so dat jy dit nie regtig agterkom nie. Dan ‘n bietjie verder van die
spoor, en dan nog verder, en later is jy die spoor byster.
Veg terug, en bly heeltyd op die hoofspoor!
Loop in die voetspoor van Jesus!
Ernest