Petrus sluit sy eerste brief af met die wonderlike boodskap
van God se genade.

Hy gee baie goeie raad vir sy lesers, raad wat ons in die moeilikste
omstandighede aan moet vashou. In 1 Petrus 5:12 sê hy:
“My doel met die brief is om julle moed in te praat deur julle weereens
aan alles te herinner wat ons God vir ons gee sonder dat ons dit verdien.
Dit is ware genade. Gryp dit met albei hande vas en moet dit nooit los nie.”
Wat ‘n boodskap! Moenie dink dit is maar net ou nuus en dat ons dit in elk
geval weet nie. Dit is hierdie waarheid wat jou elke dag dra en jou voluit kan
laat leef in goeie tye en in die moeilikste tye. Gryp dit regtig met albei hande
vas en moet dit nooit los nie! Dit is inderdaad ware genade! God kom gee uit
genade vir ons ‘n nuwe lewe! ‘n Lewe waarin ons regtig vry kan wees en nie
onder die swaard van die dood lewe nie. Ons hoef nie te presteer om hemel
toe te gaan nie. Ons leef nie onder die swaard van die sonde nie, maar onder
die genade van God wat Christus vir ons aan die kruis bewerk het.
God het dit alles gedoen.

Moenie met God se genade mors nie... moenie dat jou hart ‘n hart van klip
raak nie. Gryp God se genade vas met albei hande, met jou hele lewe! Moet dit
nooit los nie! Hierdie genade kom vul jou met liefde. Liefde vir God en liefde vir
jou medemens. Daarom die opdrag van Petrus in vers 14:
“Vou mekaar toe in Christelike liefde.” Wat ‘n mooi beeld. Beskerm mekaar teen
die koudheid van ‘n harde wêreld waarin ons leef. Wanneer ons besef hoeveel
genade van God oor ons reën, sag en deurdringend, sonder ophou, kan ons nie
anders as om uit te gaan in ‘n dor wêreld om Jesus se liefde te gaan saai in sy
genade-reën nie.

Kom ons bid saam met Petrus in vers 14:
“Mag God aan julle groot rustigheid en vrede hier diep in julle binneste gee,
aan almal van julle wat Christene is.” Kom ons bid dit as gelowiges vir mekaar.
En mag die mense wat met ons te doen kry die vrede van God, wat alle verstand
te bowe gaan, ervaar en ‘n dors daarna ontwikkel, deur Jesus se liefde wat uit ons
straal. Mag die wêreld rondom ons verander omdat ons God se genade uitleef en
uitstort op mense wat dit net so min verdien as ons.

Ernest