Geloof is nie aldag maklik nie. Partykeer vra jou geloof jou om
stroomop te swem. Ander kere moet jou geloof jou die onmoontlike
laat vermag. Soos Jesus by geleentheid gesê het, dit moet jou berge
laat skuif. Baie keer dink ons dat ons geloof net nie so sterk is soos
die super-gelowiges nie. Wat dit ookal mag beteken... ons dink ons
speel in die geloof-spanne laer af in die liga. Baie gelowiges in die Bybel
het ook soos ons gevoel. Dit “help” ons wel om te weet daar is ook ander
gelowiges, soos ons, wat voel hul geloof is net nie sterk genoeg nie.
Dit los egter nie ons probleem met geloof op nie. Dalk lê die antwoord
hierop op ‘n heel ander vlak as wat ons dink.

Die meeste van ons dink daar is mense met ‘n “groot geloof” en mense
met ‘n “klein geloof”. Ons hoor van mense wat “diep gelowig” is. God tref
nie sulke onderskeidings tussen gelowiges nie! Ons doen dit. Vir God is al
sy kinders in sy oë gelyk. Iemand het eenkeer gesê die grond voor die kruis
is gelyk. Daar is nie trappies voor die kruis vir goed, beter en beste nie.
God het ons ewe veel lief, en sy Seun se bloed het ewe veel vir almal gevloei.
Almal wat in Jesus Christus glo is ‘n tempel van die Heilige Gees. Net in die
wêreld wil mense in rye staan en almal wil voor in die ry wees.

Ons moet reg oor ons geloof dink. Jakobus het dit goed gestel om ons te help.
Daarom skryf hy in Jakobus 5:16-18: “Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige
uitwerking. Elia was ‘n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet
reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. Toe
het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.”
Doodgewone gelowiges, sê Jakobus hier, se gebed het ‘n groot uitwerking.
Ook Elia, wat deur Jakobus as voorbeeld gebruik word, was nie super-gelowig nie.
In 1 Konings 19 het hy eg mens onder ‘n bos gaan lê en gewens hy was eerder dood.
Tog gebruik God hom.

God gebruik doodgewone Christene in sy diens. Nie net mense wat “groot” projekte
aanpak nie. Nie een van ons is belangriker as ander nie. Alles wat ons doen is immers
die werk van God deur ons. Die eer kom Hom alleen toe. Moenie min van jou eie
geloof dink nie. God dink so baie van jou dat Hy jou sy kind noem. Hy kom ook jou
kleingeloof tegemoet en doen steeds sy dade deur jou wat sy kind is. Niemand kan
in homself roem nie. Ook nie ten opsigte van geloof nie.

Ernest