Vandag die derde voorbeeld van worsteling met God,
en die verandering van sy wil:
As dit waar is van die lewe dat ‘n mens hard moet werk en somtyds
selfs knaend moet wees om iets reg te kry, dan is dit sekerlik ook waar
van ons geloofslewe. Ons word dikwels in die Woord van God opgeroep
om te volhard! Dit is eintlik verstommend dat ons as gelowiges so min
maak van volharding in ons geloofslewe, en gebed by name. Dink ons
moontlik dat God ‘n “onbeweeglike” God is? Dat Hy nie in gelowiges
belangstel wat geestelik “avontuurlustig” wil leef nie? Dat Hy net na
gebede luister wat binne die regte bane gebid word? So raak godsdiens
‘n formele aangeleentheid waar ons net die nodige geestelike “reëls”
moet nakom. So raak God ‘n veraf Persoon wat ons op ‘n stereotipe
manier begin dien...
Ware geloof is heel anders! Dit is bedoel om ‘n avontuur saam met God
te wees. Dit lewe en bruis! Dit is opwindend! Dinge gebeur so vinnig dat
jy nie kan “byhou” nie. God is deurgaans aan die werk en wonderwerke
gebeur deurgaans rondom jou. Want God se werk is wonder-werk! God is
dinamies met ons op pad na Jesus se wederkoms! God maak tyd met ons,
luister na ons, en reageer positief op opregte gebede. Hy is nooit te besig
vir jou nie! Hierdie “ander” kant van ons verhouding met God word ongelukkig
onderbeklemtoon in Christenskap. Ons wil ons verhouding met die Here in veilige
bane kanaliseer. Dit moet gemonitor word, beheer word. So raak ons geloof saai
en raak dit beperk tot stiltetyd en eredienste.
Ons kan regtig openlik enige iets na God toe neem, ja, selfs knaend dit na Hom toe
neem. God is bereid om na enige iets te luister waarmee ons na Hom toe kom!
Niks is vir Hom te groot of te klein nie. Inteendeel! Iemand het gesê:
God het die meeste tyd vir gebede, groot en klein.
In Lukas 18 beklemtoon Jesus in ‘n gelykenis iets van hierdie dinamiese aard van God.
Hy vertel van ‘n vrou wat deur iemand te na gekom is. Sy het toe haar saak na die
plaaslike regter toe geneem. Hy was maar ‘n ongenaakbare man en hy was te hardvogtig
om hom aan die arme weduwee te steur. Maar dit het haar gladnie ontmoedig nie!
In Lukas 18 vers 3 vra sy: “Doen aan my reg in my saak teen my teenparty.” Vers 4 sê:
“’n Tyd lank wou hy nie, maar later het hy vir homself gesê: “Vir God het ek wel geen
eerbied nie, en aan ‘n mens steur ek my nie, maar aangesien hierdie weduwee so aanhou
om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end
ook nog.”
Jesus illustreer ‘n belangrike punt oor God en ons gebede. Hy sê dat as ‘n goddelose regter
bereid is om na die aanhoudende gekarring van ‘n onbelangrike vroutjie te luister, sal God
dit mos soveel te meer doen. Vers 7-8: “Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en
nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help,
en gou ook!”
Jesus verwys hier na die wederkoms en sê dat gelowiges wat hier op aarde baie swaarkry
moet aanhou om na God te roep. Hulle moet soos die weduwee tydig en ontydig voor God
se troon pleit om hulp. Dit sal God beweeg om vinnig in te gryp!
God reageer en luister wanneer sy kinders “op hulle knieë is”. God gee uitkoms. Dit raak
God se hart wanneer sy kinders swaarkry, en God doen nie net “iets” daaraan nie. Hy doen
alles daaraan! Dit verander jou verhouding met God tot ‘n geloof-avontuur saam met God!
So ‘n geloof verwag alles van God!
Dit leef dinamies saam met God!
Ernest