Ons sê maklik: Sien is glo! Maar is “sien” regtig glo?
Neem maar vir Abraham, wat die vader van die gelowiges genoem word.
Abraham het inderdaad ‘n baie sterk geloof gehad. Tog het Abraham se
geloof hom ook in kritieke stadiums in die steek gelaat. Dink maar aan
Genesis waar God aan hom ‘n grondgebied en ‘n groot nageslag beloof.
Abraham het mettertyd in hierdie belofte begin twyfel. Hy en sy vrou was
regtig al baie oud en kinders was nou “buite die kwessie”. Nou begin Abraham
op die kantlyn allerhande planne maak. Om God so ‘n bietjie “te help”...
In Genesis 16 lees ons hoe hy ‘n seun, Ismael, by sy slavin verwek wat nou as
sy seun kon dien. Maar dit was nie wat God beplan het nie! Hy wou juis aan
Sara spesifiek ‘n kind gee. Dit was wat God belowe het! God hou sy beloftes!
Daarom het God nog ‘n keer aan Abraham verskyn met die belofte van
‘n groot nageslag.
Wat sou ons gedoen het? Die meeste sal dalk maklik sê dat ons God met toe
oë sou geglo het. Maar nie Abraham nie... in Genesis 17:17 lees ons dat hy vir
die Here gelag het toe die Here nogmaals vir hom gesê het dat die negentigjarige
Sara ‘n kind in die wêreld sou bring. Twee keer verskyn God aan Abraham met
dieselfde belofte! Al wat Abraham doen is om te lag en sye eie noodplan aan
God voor te lê.
God laat Hom egter nie van stryk bring nie. Nooit nie. God gee uiteindelik aan
die twyfelende Abraham en Sara ‘n eie kind! Isak!
Wat leer ons hieruit? Direkte openbarings van God versterk nie noodwendig
jou geloof nie. God het tog self aan Abraham verskyn! Hy behoort hoegenaamd
nie te getwyfel het nie! Ons moet ook nie dink ons sou anders as Abraham
optree nie. Dink maar aan sy geloof toe hy later vir Isak neem om hom te offer.
Openbaringe en visioene is ook nie ‘n waarborg van groot geloof en geen
twyfel nie. Om te glo gaan ook met twyfel gepaard... glo dit maar.
Ons moet nie met die verwagting leef dat God een of ander teken of
bonatuurlike ding moet doen voordat ons sonder twyfel sal glo nie. Ons moet
eenvoudig God op sy woord neem en bly glo, selfs ten spyte van twyfel. God los
ons nie wanneer ons twyfel nie. God bereik steeds sy doel met ons, net soos met
Abraham. God bly ons lei tot standvastige geloof. Ons moet egter telkens met ons
twyfel na God gaan. Dit is die enigste en regte uitweg, ook in twyfel.
Geloof is om te sien terwyl jy nie sien nie. Om aan God vas te hou selfs as die
lewe nie sin maak nie. Geloof is om jou hand na God te bly uitsteek, selfs al voel
dit vir jou dat jy spartelend ondergaan.
Geloof is nie “sien is glo” nie, maar “glo is sien”!
Ernest