“Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland;
ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger
gely.” – 2 Kor. 6:5.

Ons hou nie van swaarkry nie. Veral nie in ons geloof nie. Ons hou nie
daarvan as ons geloof op ‘n rowwe grondpad beland nie. Tog kry miljoene
mense regoor die wêreld daagliks swaar. Bitter swaar. Mense loop met
blywende geestelike, emosionele en fisiese littekens rond. Die kerk van
Jesus Christus het ook deur die eeue nie swaarkry vrygespring nie.
Geskiedenis is dikwels geskryf met die bloed van Christen-martelare.
Mense wat die hoogste prys vir hulle geloof betaal het.

Ons leef in ons tyd in meer gemaklike tye wat bogenoemde betref.
Hierdie “gemaklike godsdiens” het egter ook sy tol geëis. Gelowiges het
begin dink dit is God se plig om ons op die pad van voorspoed en gerief te hou,
veral ten opsigte van ons geloof. Geloof het vir baie mense soos ‘n versekerings-
polis geraak. Teen die rampe en krisisse van die lewe. In die sewentigerjare van
die vorige eeu het selfs iets soos ‘n welvaarts-teologie ontstaan. Daarvolgens
kan Christen gelowiges net op die allerbeste aanspraak maak.

Die Bybel hou egter ‘n ander boodskap van geloof voor. Nêrens beloof God aan
sy kinders ‘n gelyk pad van geloof nie. Sonder hindernisse of probleme nie.
Die Bybel sê juis dat Christene dit hier op aarde maar moeilik sal hê. Jesus sê self
dat Hy sy volgelinge soos skape onder wolwe instuur. Openbaring 6 en 13 vertel
ook dat gelowiges doodgemaak sal word ter wille van hulle geloof. Geloof is nie
‘n sagte opsie nie. Dit vra groot moed om in hierdie wêreld aan God se kant te
gaan staan. Ons staan steeds voor groot vrae oor geloof en swaarkry.
Is dit God se straf? Is God regtig ‘n God van liefde?

Swaarkry is egter nie net vir ongelowiges bedoel nie. Dit is deel van die
werklikheid en gebrokenheid van die realiteit waarin ons leef, dat ook gelowiges
ontsettend swaar kan kry. So deel Paulus byvoorbeeld sy eie lyding in Korintiërs.
Maar hy bevestig ook dat God se kinders nooit alleen is in swaarkry nie, maar dat
God altyd by hulle is! As selfs Paulus nie swaarkry en lyding gespaar is nie, moet
ons weet dat dit deel van ons lewe is. Ons moet ook by Paulus leer om ons nie
blind te staar teen swaarkry nie. God is tree vir tree by ons en met ons op pad,
na sy doel met ons.

Ernest