Bybelfigure word nie voorgehou as super-gelowiges nie.
Hulle was almal gewone mense soos ons. Hulle het nie van die een
geestelike hoogtepunt na die ander geleef nie. Inteendeel. Hulle het
dikwels self ondervind dat hulle geloof wankel in onsekerheid of twyfel.
Johannes die Doper het begin twyfel of Jesus waarlik die Messias is toe
hy in die tronk beland. Petrus getuig onverskrokke voor die Joodse Raad
dat hy aan God meer gehoorsaam moet wees as aan mense. Maar later,
in Antiochië, is dit dieselfde Petrus wat huigel deur hom aan die Christene
van heidense afkoms te onttrek, ter wille van goeie verhoudinge met die
Jode – Gal.2:11-14.

Paulus was ook nie ‘n super-gelowige nie. Hy moes dikwels hard worstel
om sin te maak van sy lewe en sy verhouding met God. 2 Kor. 11-12.
Hy vertel van sy swaarkry ter wille van die evangelie. Geloof kry dikwels
die wind reg van voor. Hy vertel dat sy lyding hom begin onderkry het.
In plaas daarvan om in sy moeilike omstandighede na God op te sien,
het hy begin moedeloos raak. Uiteindelik het Paulus uit pure desperaatheid
na God toe gegaan en Hom gesmeek om tog ‘n einde te maak aan sy lyding.
2 Kor. 12:8 vertel hoe hy drie maal tot God gebid het om die doring uit sy
vlees te verwyder. God het egter ‘n ander plan met Paulus se swaarkry gehad.
Dit het Paulus onder andere daarvan weerhou om “grootkop” te kry oor sy
geloof en bediening. Hy het op ‘n besondere manier met God kontak gehad
en kon maklik begin spog het daarmee. God keer dit met ‘n doring in sy vlees.

Ons kry ook dikwels die wind van voor in ons geloof om juis ons geloof te laat
groei. Ons leer om volledig afhanklik van God te leef. Dit hou ons op ons knieë.
God wil juis ons fokus van onsself wegneem na Hom toe. Ons leer dat God in
lyding en swaarkry met ons aan die werk is. God is daar waar ons stoei om
geestelik kop bo water te hou. En juis daar kry ons ‘n nuwe perspektief op Wie
God is en wat Hy doen. Ons vind dat al ons krag en sterkte in Hom lê. Daarom
kon Paulus uiteindelik sê dat wanneer hy swak is, hy eintlik in Christus op sy
sterkste is! Wanneer ons ophou om op ons eie vermoëns te steun, kan God
kragtig deur ons werk.

Ons soek God se werk te dikwels net in suksesverhale. In allerhande groot
geestelike gebeure in die kerk. Dit gaan nie net goed in God se oë wanneer
kerke vol is nie. God is ook daar waar gelowiges hulle op die sendingveld
afsloof sonder ooglopende sukses. Hy is daar waar gelowiges worstel om
geestelik kop bo water te hou. Hy is daar waar selfs net ‘n handjievol mense
saam is in ‘n week van gebed of by ‘n aanddiens.

Ons hoef ook nie elke geval te verstaan wanneer ons die wind van voor kry
in ons geloof nie. Ons moet eerder ingestel wees daarop om God se Naam
binne die omstandighede te eer. Ons moet ons swaarkry met waardigheid
tot eer van God dra. Ons moet daardeur groei, en ander wat met ons te doen
het wanneer ons in swaarkry is, moet ook daardeur groei!
Gaan beleef nou prakties Paulus se woorde: Wanneer ek swak is, is ek sterk!

Ernest