Sommer gou wil die Jode hê Christene moet ook aan hulle
godsdienstige reëls voldoen. Ons sukkel nou nog hiermee.
Ons wil hê mense moet soos ons dink en optree.

Paulus skryf in Galasiërs 2 dat hy Jerusalem toe gegaan het.
Daar het hy die boodskap wat hy onder nie-Jode preek ook
aan hulle voorgehou in Jerusalem. Titus wat saam met Paulus
gegaan het was ‘n Griek. Hy was nie besny nie, en hier kom
nou die probleem met die Jode. Die Joodse wet vereis dit.
So, nou moet Titus besny word... Christus plus nog iets...

Vandag nog worstel ons hiermee. Christus plus... dit of dat,
wat in ons gemeente of aanbidding-styl gedoen word.
Paulus sê dan in vers 4-5: “Hulle wou die vryheid waarmee
Jesus Christus ons vrygemaak het, van ons af wegvat en ons
weer van voor af slawe van al hulle wette en reëls maak.
Maar ons het dit nie toegelaat nie. Met al ons krag het ons
gekeer dat die regte evangelie wat ons preek deur hierdie
spul verander word.”

Dit is duidelik: Paulus het alles gedoen sodat almal, Jode en
nie-Jode die vryheid van Christus kon ontvang en daaruit leef.
Daarom het hy Barnabas, ‘n Jood, en Titus, ‘n Griek, saam met
hom na Jerusalem geneem sodat die mense daar die lewende
bewyse kon sien dat Jesus alle mense vrymaak en dat niemand
uit die genade en liefde van God uitgesluit is nie.

Martin Luther het op ‘n keer gesê: “Wanneer iemand aan die
deur van my hart klop, maak ek dit oop en as hulle vra:
“Wie woon hier?” dan antwoord ek: “Jesus Christus woon hier.
Martin Luther hét hier gewoon, maar hy het gesterf. Jesus Christus
lewe nou hier.”

Dit geld alle mense! Alle mense kán soos Luther in Christus
nuutgemaak word, om in hulleself te sterf, sodat Christus nou in
hulle leef! Niemand word uitgesluit nie. Nie deur ons byvoegings by
dit wat die Woord van God sê nie. Nie besnydenis...
of wat ookal nie...
Jesus is vir almal bedoel!

Ernest