Dikwels is Christene soos duikbote wat net by geleentheid
na die oppervlakte kom. Die res van die tyd is hulle onsigbaar,
“under cover” in die water. Wat is die oorsaak daarvan dat ons
nie so sterk sigbaar as Christene lewe en ‘n beduidende verskil
maak nie? Ons sou baie oorsake kon opnoem.

Maar is die belangrikste nie waarskynlik dat ons as gelowiges
skaam geraak het vir ons geloof nie? Daarom gebeur dit ook
dikwels dat ons ‘n gedaanteverwisseling ondergaan wanneer
ons by die werk of by vriende is. Ons wil eerder gewild wees,
as om ons geloofsoortuiging uit te leef.

Jesus het goed geweet dat mense dikwels skaam is oor hulle geloof.
Daarom vertel Hy aan sy dissipels dat jy iewers in jou lewe ‘n keuse
moet maak oor wie jy nou eintlik wil wees en wie jy nou eintlik wil
vrees! Wil jy God vrees, of die mense. Wanneer jy jou bes doen om
nie aan ander mense aanstoot te gee oor jou geloof nie, het jy volgens
Jesus nie genoeg respek vir God nie.

Jesus gee in Matteus 10 ‘n oplossing as jy verleë geraak het oor jou
geloof en dit moeilik uitleef. Volgens Hom beteken dit ten diepste dat
jy vir mense en hulle opinies bang is en dat dit vir jou te belangrik geraak
het. Vers 26 sê: “Moet dus nie vir mense bang wees nie...” Mense kan in
elk geval nie meer doen as om mekaar dood te maak nie. Maar God kan
jou in die ewige verdoemenis laat beland, volgens vers 28. Ons moet
eenvoudig ons geloof oop en eerlik gaan leef. Opreg! Verse 32-33 sê dat
as ons dit nie doen nie, ons moet besef dat Jesus Hom ook op ‘n dag so
sal skaam vir ons, dat Hy sal maak asof Hy ons nooit geken het nie.

Ons moet leef met respek en agting en eer aan God. Dit beteken nie om
doodbang vir God te wees soos slawe wat nie weet wat hulle eienaar se
wil is nie. Verse 29-31 sê die God Wie ons moet “vrees”, die Een is wat
die hare op ons kop een vir een getel het! Hy laat nie eers toe dat ‘n
mossie op die grond val sonder dat Hy daarvan bewus is nie. Hy wat die
heelal bestuur tel ook die hare op ons hoof! Ons leef elke asemteug uit
sy hand.

Is dit dan nie die moeite werd om ‘n lewende getuie van hierdie God
te wees nie! Wanneer die lewe so groot raak dat ons nie meer eer en
ontsag vir God het nie, moet ons Jesus se woorde ernstig ter harte neem.
Ons moet nóú ons geloof openlik gaan uitleef! Ons moet ophou om in
ons dop weg te kruip terwyl ander ‘n bespotting van die evangelie maak.
Gaan beleef daarom dat Christus so tevrede met jou geloof is dat Hy
bereid is om jou naam openlik voor sy Vader wat in die hemel is uit te
spreek!

Ernest