Onthou, sê Paulus in Filippense 3:9, dat ons vrygespreek is,
nie omdat ons die wet onderhou nie, maar omdat ons in Christus glo!
Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo! Maar dit
beteken nie dat ons as kinders van die Here nou terugsit en “niks” doen
nie. Ons moet tog hierdie vryspraak in getuienis en lewe tot eer van God
gaan uitleef in hierdie wêreld, met die grootste van alle dankbaarheid!

Ons het onsself nou aan Christus toevertrou. Christus het my syne
gemaak en ek ken Hom nou as Here, en is één met Hom!
Die resultaat hiervan spel Paulus nou uit in 3:10: “Al wat ek wens is om
Christus te ken...” Ek span my in om Christus te ken! Dit gaan nie oor die
feite wat ek van Hom weet nie, maar oor ‘n intieme verhouding met Hom.
Om deurlopend lewenservarings met Hom te deel. Om saam met Hom te
leef, in Hom! Om die krag van sy opstanding te ondervind. Om deel te hê
aan sy lyding. Om daarna uit te sien om deel te hê aan die opstanding uit
die dood. Paulus het alles prysgegee hiervoor... om Christus en die krag
van sy opstanding te ken!

Elkeen van ons het toegang tot hierdie kennis en hierdie krag. Dikwels
moet ons ook groot opofferings maak om voluit daaraan deel te kan hê.
Om Christus te ken is egter meer werd as alle opofferings wat ons ooit
kan maak.
In verse 12-14 sê hy: “Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik
het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus
my reeds syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie.
Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat
voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys
kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”
Paulus het hom ingespan om hierdie oogmerk te bereik.

Hierdie Skrifgedeelte dwing ons om na ons eie geestelike lewe te kyk en
onsself af te vra: “Hoe hardloop ek hierdie lewens-wedloop vir die Here?”

Daar is drie moontlikhede:
Ons hardloop heel gemaklik, rus-rus, doelloos, en staan soms net rond.
Christus het vir my gesterf, ek gaan nou en dan kerk toe, en vir die res
is ek “ok”.

Of ons hardloop angstig en senuagtig rond. Ons hou die horlosie dop en
is bang ons gaan nie klaarmaak nie. Ons wil ons verlossing nog verdien.

Of ons hardloop die ware lewe soos gelowiges. Vasbeslote en doelgerig
omdat ons weet wie ons rééds in Christus is! Ons het die wenstreep in
die oog. Christus het ons syne gemaak. Uit vreugde, dankbaarheid en
blydskap hardloop ons ter wille van Hom, en saam met Hom, in Hom!!
Span jou in om die wonderlike dinge wat Christus klaar vir jou gedoen
het jou eie te maak, en die krag daarvan te ondervind, in Hom!

Ernest