“Ons beveel julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus:
Onttrek julle aan elke broer wat leeglê en hom nie hou aan die opdragte
wat julle van ons ontvang het nie.” – 2 Tessalonisense 3:6.
Dikwels word ons daarmee gekonfronteer: Daardie ou wat met die honger
uitdrukking op sy gesig en ‘n rooigebrande vel by die verkeerslig staan en
jou iets te ete vra, met die belofte op die plakkaat dat die Here jou sal seën...

Gelukkig, terwyl jy nog dink hoe jy die soveelste een van hulle vandag kan
help of oogkontak kan vermy, slaan die verkeerslig groen en jy is “genadiglik”
van hierdie een verlos... net om by die volgende verkeerslig jou in nog twee
hulpbehoewendes “vas te ry”. Hulle het ewe oortuigende verhale van
swaarkry, op húlle plakkate. En jy wonder wat hulle met jou bydra
gaan doen? Gom rook, dwelms of drank koop?
Help jy dalk van die wal af in die sloot?

Wat doen jy!? Ons het ook net soveel om te gee... Moet jy maar bly gee
om jou gewete te stil? Moet jy die onus aan die ontvangers oorlaat of hulle
eerlik is of nie? Moet jy redeneer jy gee by die kerk en die res van die tyd is
jy sorgvry by elke verkeerslig? Die antwoord op hierdie vrae is nie maklik,
eenvoudig of voor die hand liggend nie.

Paulus help ons egter ook in 1 en 2 Tessalonisense waar hy gelowiges
oproep om self vir hulle eie lewensonderhoud te werk. Die wat kan werk,
maar wat nie wil werk nie, moet nie summier en blindelings gehelp word
nét om ons eie gewete daardeur af te koop nie. So ‘n ontduiking van ons
eie verantwoordelikheid is nie ‘n verantwoordelike roete nie.

Aan die ander kant help ons wel dié wat wil werk, maar wat regtig nie
kan nie as gevolg van dinge soos siekte, afdankings, min werksgeleenthede,
en nog baie ander faktore...
Wat ons verseker weet is dat selfopgelegde armoede as gevolg van luiheid
en ontduiking van God se opdrag tot arbeid verkeerd is. Om sulke gedrag in
stand te hou deur oorhaastige geldelike hulp is ook nie regtig ‘n oplossing nie.

Maar nou ook die ander kant: Om mense wat daadwerklik hulp nodig het
om die regte redes ook weer nié te help nie, is ook uit pas met God se wil.
So, wat doen jy?

Die kort en die lank is dat ons in elke situasie opnuut voor God moet besluit
wat om te doen. Die belangrike is ook ons gesindheid. Hoe dink ek oor hierdie
mens? Veroordelend? Hoe behandel ek hierdie mens as hy of sy met my praat?
Wat se my oë en my lyftaal? Wat dink ek?
Wat praat ek met God oor die persoon? Seën, gebed... vloek, oordeel?
Dalk moet ons juis die hardste daaraan werk...
Uiteindelik kyk God of ek met die gesindheid van Jesus optree...
al gee ek nie ‘n sent nie.
Filippense 2:5: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees
wat daar ook in Christus Jesus was...”

Ernest