Ons dink gewoonlik aan die ewige lewe as ‘n tydperk wat
vir altyd anderkant die graf gaan aanhou. Ons besef nie dat
die ewige lewe nou reeds ‘n realiteit is aan hierdie kant van
die graf nie. Dat dit nou reeds geleef word nie. Maar meer nog:
Die ewige lewe is ‘n Persoon!

Ons dink eintlik gladnie so daaraan nie. Die ewige lewe is nie net
‘n bepaalde tyd of plek, genaamd die hemel, nie. Die ewige lewe is
‘n Persoon! Die Persoon Jesus! Die ewige lewe is altyd Jesus!
Hy is die Lewe self! Hy is die weg en die waarheid en die lewe!
Hy sê self: “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in
Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie
veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe
oorgegaan.” – Johannes 5:24.

Orals waar Jesus is, is lewe! Sy woorde en dade is lewe en gee lewe.
Slegs Jesus kan sê: “Wie in My glo, het die lewe.” Dit gebeur hier en
nou. Sy lewe is nie vir eendag nie.
Met Jesus se koms het die toekoms die hede klaar oorgeneem.
Die toekoms het reeds begin toe Jesus mens geword het. Jesus het
die mag om lewe uit te deel. Johannes 3 sê dat die wat in Hom glo
nie onder God se oordeel staan nie. Die groot drama van die ewigheid
is reeds besig om af te speel. Die wat nie glo nie is reeds veroordeel.
Lewe en dood is vandag reeds op die spel!

Geloof in Jesus sluit die ewigheid vandag al oop. Ongeloof het vandag
alreeds die teenoorgestelde reaksie. Maar die wonderlike is dat vandag
nog nie te laat is nie! Nou!...is nie te laat nie!
Geloof in die woorde van Jesus, hier en nou, verander die toekoms
tot in die ewigheid! Kies vandag opnuut weer die Lewe! Kies Jesus!

Ernest