Jesus is die Rede vir ons bestaan. Hy is ons lewe. Hy is ons asem, ons alles.
Om Hom te vind moet ons tot stilstand kom. Ons vind nie vir Jesus teen die
hoë pas waarteen ons hardloop, en met die fokus op ons eie aktiwiteite nie.
Selfs al is dit aktiwiteite gerig op die werk van die Here. Ons moet by Jesus
hoor wat Marta in Lukas 10:41-42 gehoor het. Sy was 100% besig om vir
Jesus iets te “doen”. Sy vra hulp om dit nog vinniger en beter te doen.
Maria moet kom help. Sy kan nie net daar by die Here sit nie.

“Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge...” sê Jesus.
Let op dat Jesus sê “...oor baie dinge...” Ons is mense wat rondhardloop.
Besorg en bekommer oor baie dinge. Selfs in die kerk kan ons angstig planne
maak oor finansies, wakker lê hoe om nog meer siele vir die Here te wen.
Ons jaag na nog vergaderings en nog meer beplanning, hoe om nog meer
effektief vir die Here te werk. Gejaagdheid lei nie tot hoër effektiwiteit of
beter resultate in die Here se diens nie. Ons raak moeg en oorlaai.
Daar is te veel Marta’s wat te besig is en by die Here verbyhardloop,
en te min lerende Maria’s wat tot rus kom en by die Here se voete sit.

Om besig te wees is nie vanself reg of verkeerd nie. Om bloot net minder
besig te wees, gaan jou nie noodwendig by die Here se voete laat sit nie.
Dan sou al die niksdoen-Christene die mees uitgesorteerde mense wees.
Die heel belangrikste vraag van die Here is hoe jy na Hom toe kom,
nie hoeveel jy vir Hom sekere dinge gaan doen nie. Wie ís jy, voor Hom?
Eerste dinge eerste. Daar is Christene wat hulle hande afwerk in diens van
die Here, maar nie tyd maak om by Hom tot rus te kom en aan sy voete
gaan sit nie. Eers as ons by die Here gaan sit, sal ons regtig agterkom wat
ons in sy Naam doen, en wat nie. Vanuit die rus en teenwoordigheid by
die Here word juis die regte soort dringendheid gebore.

Ons moet weer uit die verhaal van Marta en Maria leer:
Rus in Jesus lei tot dringendheid, nooit tot gejaagdheid nie. Ons moet diep,
lank, en aanhoudend rus vind by die Here. Juis daaruit groei ‘n diep innerlike
oortuiging oor ons doel in die lewe. Ons doen dan wat die Here wil hê ons
moet doen in ons eie stukkie tyd hier op aarde. Dan leef ons vanuit die
teenwoordigheid by die Here se voete, en nie vanuit die eise van die
wêreld wat ons soos ‘n lemoen uitdruk en weggooi nie. Dit gaan nie oor
take en pligte wat afgehandel moet word nie.
Dit gaan regtig oor kind-wees in die Vader se huis,
waar ons vreugdevol in sy teenwoordigheid leef,
speel en dien... aan sy voete.

Ernest