Jesus se voetwassing van sy dissipels is ‘n groot voorbeeld
van hoe die nuwe identiteit en leefwyse van sy volgelinge
gevorm en uitgeleef moet word. Om in Jesus se tyd voete te was,
was die werk van slawe. Selfs Joodse slawe is so ver as moontlik
daarvan weggehou deur Joodse eienaars. “Mindere” slawe moes
dit doen. Tog gaan Jesus in Johannes 13 op sy knieë voor sy dissipels,
om hulle voete te was! Petrus weet dit is ondenkbaar en reageer daarop.
Maar Jesus doen dit nogtans, want sy identiteit is “uitgesorteer”.
Verse 3-4 verduidelik dit: “Jesus het geweet dat die Vader alles in sy
hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan.
Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ‘n
handdoek gevat en om Hom vasgemaak”. Jesus weet van wie af Hy kom
en na wie Hy terugkeer. Dit is daarom vir Hom gee probleem om die werk
van ‘n slaaf te doen nie.
Nuwe identiteit, nuwe leefwyse. Jesus sê in verse 13-14 as Hy as Here en
Leermeester hulle voete gewas het, moet hulle dit ook vir mekaar doen.
Hierin lê groot betekenis en waarde in die koninkryk van God.
Eers wanneer ons ontdek wie ons in Christus is, raak ons vry om te dien
en te leef! Dan verloor ons ons aangeleerde inhibisies en belangrikheid.
Dan krimp ons soeke na erkenning en belangrikheid. Dit krimp drasties.
Dan raak ons vry van ons selfsug en eie behoeftes en dinge wat betekenis
aan ons lewe moet gee. Dan tel ons eie belangrikheid, en dinge wat ons
al gedoen het, en dinge agter ons naam... of die gebrek daaraan,
nie meer nie.
Ernest