Die dissipels se harte was nog rou oor hul Meester se kruisiging,
toe Hy skielik tussen hulle staan en sê: “Vrede vir julle.”
Tomas was egter nie by hierdie geleentheid nie.
Daarom verstaan ons wanneer hy sê:
“Nee wat, ek glo nie.”
Wanneer Jesus dan ook aan hom verskyn,
en hom uitnooi om sy vinger op sy wond te sit,
roep hy oorweldig uit:
“My Here en my God!”
Vandag is God nóg nader aan ons,
leef Hy in ons, en is dit sy Gees self wat ons help,
om in al ons twyfel te verklaar:
“Ja, Here, U is ook mý Here en my God.”
Geloof is om te vertrou, al verstaan jy nie.
En om die Here toe te laat om jou vas te hou,
al sien jy Hom nie.
Dit is nie vreemd vir kinders van die Here,
om deur twyfel- en stoeitye te gaan nie.
Dikwels is ons geloof sterk, beleef ons God as naby,
en is ons absoluut oortuig van wat ons glo.
Ander tye sukkel ons om te verstaan.
Ons voel dat ons na die Here roep, en Hy hoor nie, luister nie.
Ons beskuldig Hom selfs van afwesigheid,
soos Dawid in Psalm 13.
Om in God te glo beteken nie dat jy alles verstaan nie.
Of dat jy antwoorde op al jou vrae kry nie.
Of altyd ewe sterk in jou geloof is nie.
Om werklik te glo is om heel dikwels nié te verstaan nie,
om soms nie antwoorde te kry nie,
en selfs nie vrede te hê nie…...
en dan steeds te weet God is daar,
Hy is my Verlosser,
en ek bly soek na die leiding van die Heilige Gees.
Geloof gaan nie oor klinkklare antwoorde, of oplossings,
en ‘n twyfellose lewe nie.
Geloof is ook nie ‘n waarborg vir ‘n sorgvrye en pynlose bestaan nie.
Geloof gaan daaroor dat ons hoop op dinge wat ons nie kan sien nie.
Ons weet deur die Gees dat God daar is, en dat ons Hom nie hoef te sien nie.
Dit is om, sonder antwoorde, te weet dat Hy my gekies het om te glo!
Ernest