Daar lê groot seën in saamwees. Ons moet daagliks die waarde van
saamwees waardeer. Saamwees is koinonia. Om as gelowiges in Jesus
Christus saam te wees is gebore in God se hart. Daarom is die geloofs-
gemeenskap ook so belangrik vir God. God het ons geskep vir saamwees.
Die eerste “probleem” wat God in Genesis 2 hanteer is Adam se alleenheid.
God sê vir Homself dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie. Die totale
pakkie van openbare media en hoe dit ons opslurp, neem nie eensaamheid
en alleenheid weg nie. Die lewende God is die God van verhoudings en Hy
het ons geskep om ook so te wees. Die Heilige Gees werk juis deur ons harte
en saamwees om God se liefde en barmhartigheid en diens aan mekaar te
bewys en uit te leef.

Ons weet egter ook dat nie een van ons alles vir almal kan wees nie.
Verhoudings gebeur veral op vier terreine. Openbaar, sosiaal, persoonlik
en intiem. Daarom sal ons ook op hierdie verskillende terreine by mense
betrokke wees. Almal deel nie al hierdie spasies met mekaar nie. Die wonderlike
is dat ons in al vier hierdie lewensterreine of leefspasies die Here dien en geseën
word deur die Here in ons kontak met mekaar. Ook Jesus het in wyer kringe en in
nouer kringe beweeg. Die publieke spasie was waar hy mense se nood aangespreek
het. Dit was lewensveranderend vir elkeen wat Jesus daar raakgeloop het. Maar ‘n
klein groepie dissipels is toegelaat in sy deurlopende persoonlike spasie.

Ons kan nie ewe veel tyd en energie aan almal spandeer nie. Dan brand ons uit.
Maar ons hoef dit juis nie te doen nie. Ons kan egter elke mens met liefde, respek
en integriteit behandel. Verhouding oorlading kan veroorsaak dat ons baie besig is
maar vlak loop, in plaas van diep in terme van betekenis vir mekaar. Dan kan mense
nie die seën van die Here deur mekaar beleef soos die Here dit bedoel nie.
Dan het ons te min tyd vir mekaar.

Ons moet ‘n lewende seën vir mekaar wees. Ons moet mekaar seën met ons
talente en gawes. Paulus skryf in Romeine 1 dat hy op pad is na Rome om die
gelowige mense daar met geestelike geskenke te oorlaai. Tog sien hy ook uit om
geestelike geskenke by hulle te ontvang. Paulus skryf ook in 2 Korintiërs 2 dat ons
‘n aangename geur van God is, soos wierook is, wat die reuk van Christus afgee.
Ons is bedoel as seën vir die wêreld en vir mekaar. Ons is sout wat smaak gee,
en lig wat donker verdryf. Volgelinge van Jesus doen tydig en ontydig goed aan
ander. Ons vergeet dan van ons self-gerigtheid en selfsugtige behoeftes.

Dit het dikwels met klein dingetjies te doen soos hoe jy motor bestuur in swaar
verkeer, of toustaan by die bank, of hoe jy ‘n winkelassistent of petroljoggie
hanteer, of jou eie huis of tuinwerker.
Die vraag is of die Here se nabyheid in jou eie daaglikse lewe sigbaar is,
en deur ander mense aangevoel word... ?
Mag die Here mense seën... deur jou.

Ernest