“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is.”
– Matteus 5:3.
Indien ons besef dat die Here ons aan die arm moet neem soos
‘n swak en afhanklike ou mens, of ons aan sy hart moet druk soos
‘n totaal afhanklike baba of kleuter, begin ons iets verstaan van ‘n
lewe in en afhanklik van God. Ons kan nie eers asem haal sonder
Hom nie. Hy laat immers sy son in genade skyn oor regverdiges
en onregverdiges. Ons is totaal afhanklik van God...
Nie net gedeeltelik nie. Wanneer ons dit besef en daaruit leef,
dan noem Jesus ons “geseënd”.

Ons hoor dikwels dramatiese preke oor “oorgawe aan God.”
Ons hoor egter te min van ‘n stil en ondramatiese behoefte aan
God wat vervulling soek in ‘n “armoede” of gestrooptheid van
die eie ek. As’t ware ‘n gestrooptheid van die siel.
Namate ‘n mens ouer word, besef jy dat baie dinge wat jy vroeër
as hoë prioriteit beskou het eintlik minder en minder van waarde
word. Wanneer jy geestelik groei, word jy ook daarvan bewus en
beleef jy hoe God die nodige vir jou lewe verskaf, en nie jyself nie.

Die vierde-eeuse Hesigastiese monnike van die woestyn het vir
mekaar geestelike oefening voorgeskryf: Ondersoek elke gedagte
wat in jou posvat, of dit vir of teen God se wil is. Vra die Gees om
jou te help sif, en keer so alles wat negatief mag inwerk op jou
afhanklikheid van God.
Dit is moeilik maar die moeite werd in ons wêreld wat met
soveel “besittings” en “kennis” probeer wegvlug van God af.

Die Jesus-gebed help in dié stil en kragtige oefening:
“Here Jesus Christus, wees my, sondaar, genadig.”
Hierdie gebed skep die behoefte, en dan besef ons...
God help ons in ons totale afhanklikheid.

Ernest