“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word”
– Matteus 5:4.
Die saligsprekinge is deel van die groot bergpredikasie,
of bergrede, van Jesus. Dit is moontlik dat Matteus slegs die
kerngedagte of “tekste” van ‘n reeks preke oor ‘n hele paar dae
neergeskryf het. Anders as by die gelykenisse, is daar minder
verduideliking by hierdie geweldige stellings. Elkeen van hierdie
stellings is ‘n juweel. Elkeen is ook moeilik om net dadelik te
hanteer sonder om die volle implikasie van Jesus se woorde te
verstaan. Mense wat maklik praat oor die “eenvoud” van Jesus
en “hou net by die bergpredikasie en dit is genoeg”, het nie ‘n
benul van wat alles hier gesê word nie. Dit is die omkeer van
selfgerigte menslike waardes en dit is die “moeilike” ABC van
die Christelike geloof.

Hier word byvoorbeeld in Matteus 5:4 gesê dat dié wat
treur geseënd is. En hulle beloning? Vertroosting!
Die realistiese waarheid wat dit onder meer behels, is dat niks
werklik bereik word sonder pyn nie. Liefde is pyn. Studie is pyn.
Opvoeding is pyn. Skoonheid is pyn. Gesond word is pyn.
Probeer en streef, is inspanning en pyn en trane.

Goethe sing met oortuiging:
“Wie nie sy brood met trane eet nie,
en nooit in kommervolle nagte gesit en ween het nie,
hy weet nog niks en ken geen hemelse magte nie...”
Ons ken dié lewe.

Om nooit te treur nie, of hartseer of ontsteld te wees nie,
beteken ‘n potplant-lewe in ‘n beskermde kweekhuis.
Dit beteken om die realisme wat léwe is!... te mis!
Christus beloof die Christen geen lewe in ‘n kweekhuis nie!
Ons gaan uit in sy wêreld, agter Hom aan! Ons word die lewe
ingestuur om te lééf as krygers, stryders en verkenners vir Jesus.
Ons sal en gaan wonde opdoen, maar die vertroosting van die
Here sal ook nie uitbly nie.

God is Teenwoordig, met ‘n hoofletter, in ons vreugde, maar
ook Teenwoordig in ons trane. Hy seën ons en droog dit af.
Ons sal kan “huis toe gaan” met die groot dankbaarheid:
Ons het waarlik gelééf! Ons kan ons wondmerke wys,
soos Jesus...
Uys Krige skryf: “Daar hang ‘n Jongman aan die kruis,
sy oë is droewiger as die reën. Hý sal verstaan...”

Ernest