‘n Sleutelwaarheid waarvan Jesus leer, is barmhartigheid.
Dink maar net hoe Jesus dit uitwerk en vertel in die gelykenis
van die barmhartige Samaritaan. In Matteus 5:7 sê Jesus:
“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal
barmhartigheid bewys word.”
Wanneer, hoe en waar geld barmhartigheid?
Een groot waarheid om te onthou is dat dit natuurlik moet
wees vir die gelowige en dat daar geen agenda, bybedoelings,
of dwang na enige kant toe moet wees nie. Met ander woorde:
Barmhartigheid is opsigself ‘n seën, soos sagte reën uit die
hemel self op dié een wat barmhartigheid bewys.
Belangrik: Die beloning lê nie in ‘n prys wat jy gaan ontvang nie.
Jy sal eenvoudig leef in die seën van God se ruimhartigheid!
Dit is ‘n geweldige belofte van Jesus! Dit is veelseggend:
Die kwaliteit van barmhartigheid is barmhartigheid van die Een
wat op aarde baie min barmhartigheid ontvang het. Nie voor sy
regters nie, en ook nie voor opgesweepte skares nie. En hulle
was soos óns! Jesus het geen “beloning” ontvang nie, behalwe
die kruisdood. Jesus het die kruispad met een doel gestap,
naamlik: Barmhartigheid aan jou en my.
Daar bestaan baie teorieë oor barmhartigheid, soos van die
onbybelse “God help dié wat hulleself help”, tot die mooi-
klinkende “God beloon my goeie dade aan arm kinders.”
Dit betoon min begrip van wat Jesus oor barmhartigheid leer,
want barmhartigheid beteken ‘n voortdurende openheid en
‘n besorgdheid oor die lot van ander, én hulle oortredings.
Wanneer ons bid, moet ons vra dat die Here aan ons
barmhartigheid en besorgdheid moet léér, eerder as dié
vrome en eintlik betekenislose: “Here, dink aan dié wat
minder bevoorreg is...” Die implisiete opdrag van die Here
is juis dat óns aan hulle moet dink.
Ons moet bid vir ruimhartige insig in menslike swakheid
en nood, en hoe om medelye te hê en self van hulp te wees.
Ons moet bid: “Here, leer mý ware barmhartigheid.”
Ernest