“Laat julle “ja” eenvoudig “ja” wees en julle “nee”, “nee” –
Matteus 5:37. Hierdie opdrag lyk op die oog af heel eenvoudig.
Wie kan nou nie ‘n “ja” verstaan nie, of ‘n “nee” nie?
Maar juis omdat mense nie “ja” of “nee” verstaan of handhaaf nie,
sweer mense by wat heilig is om twyfel uit die weg te ruim.

Jesus sê dit is gevaarlik vir mense. dit is ook nie meer nodig om
“jou kop op die spel te plaas” deur ‘n eed te neem nie – vers 36.
‘n Nuwe bedeling breek in Jesus aan. Jesus sê dit is belangrik dat
mense en God daarop kan reken dat jy woord sal hou en by die
waarheid sal bly.

Om by die waarheid te bly klink eenvoudig, maar die menslike
geneigdheid is om die waarheid te bekyk vanuit jou eie oogpunt.
Ons gaan ook van voorveronderstellings uit. Die waarheid het ook
dikwels ingewikkelde fasette wat nie net met ‘n “ja” of ‘n “nee”
beantwoord kan word nie. En wie van ons het nog nie geswig
voor ‘n klein kindjie wat na jou opkyk en pleit dat jou “nee” in
‘n “ja” moet verander nie?

Wat Jesus hier neerlê is ‘n algemeen geldende reël dat jy by jou
woord moet bly as die waarheid, en die praktiese beginsel dat
die een wat weifel oor sy woord in verkeerde plekke gaan beland.
Daar kom tye wanneer mens jou gewigtige “ja” of “nee” moet
heroorweeg, maar dan moet jy dit doen met goeie nadenke en
gebed in die lig van die nuwe omstandighede.

Praat die waarheid en bly by jou besluit wat jy reeds biddend
oorweeg het. Bly ook by jou beloftes. Bid gereeld: “Here, leer
my om by die waarheid te hou, en ook om my woord te hou.”

Ernest