“Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle
maak nie klere nie. Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee
soos een van hulle nie.” – Matteus 6:28-29.
Deur eeue is die mens gefassineer deur die eenvoud en prag
van die veldlelies. Hulle groei soms uit modder en in slik langs
strome en blom in alle prag. Elke lelie is ‘n klein wonder van
skoonheid en aardse versorging, en Goddelike skepping!
Jesus het die lelies in die veld gesien en sy hemelse Vader in
hulle gesien! Die God wat skep, sorg en voorsien. Hierdie
blomme groei in eenvoud en skoonheid. Ons sien dit. Hulle
“swoeg nie en hulle maak nie klere nie”.
En ons? Ons bekommer ons oor allerlei nietighede. Ons kan
weer na die lelies van die veld kyk en besluit: Ons moet alles
in ons lewe vereenvoudig. Ons leef in soveel nagemaaktheid.
Ons kleef aan namaaksels. Ons laat toe dat kommer ons van
fyn-geskepte hemelse skoonheid weglei. Ons moet weg-leef
van kwellings wat nie ‘n kwel van ons werd is nie!
Jesus sê dat God vir Hom glorie berei uit die eenvoud van die
veldlelies. Sy goedheid en versorging daarvan moet ons tot in
ons menswees raak, en ons harte kalmeer. Ons kan in vrede
by God leef, soos ‘n veldlelie wat in vrede langs ‘n dawerende
stroom leef en blom.
Ons kan God nie sien met ons aardse oë nie. Maar ons kan
na sy veldblomme kyk en ons verwonder aan sy skepping en
versorging. Dan moet ons hierdie dringende vraag vra:
Is die dinge waaroor ons ons bekommer werklik die kommer
en die angs werd? Hoekom sal die Here God, ons Vader,
wat die lelies skep en mooimaak, juis vir óns verwaarloos,
wie Hy liefhet?
Ernest