“Ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie,
maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat
nie met woorde gesê word nie.” – Romeine 8:26.

Lyding en sterwe is deel van die lewe. Lydendes en
sterwendes kan dikwels nie meer as om net gebed
uit te sug nie. Of hulle kreun instemmend saam met
‘n gebed wat vir hulle gebid word. Die woorde opsigself,
van die bidder, word ook dikwels nie eers onthou nie.
Dié gebede is weinig meer as uitinge, in tye wat ‘n mens
nie weet wat en hoe om te bid nie. Dan sug die Gees
saam in ons sugte. En God se hart gaan saam met ons
deur die pyn. Dit kan nie in woorde gesê word nie.

Maar ons ken ook nie ons eie behoeftes ten volle nie.
Wat ons dink ons nodig het, het ons dikwels nie nodig nie.
En wat ons dink ons nie nodig het nie, het ons inderdaad
só nodig. Dikwels bid ons verby dit wat ons regtig nodig het,
veral Wié ons nodig het. Dan word God deur sy Gees as’t
ware soos ‘n pa wat vir sy kleuter voorsê hoe om te bid,
sonder dat die kleuter verstaan. Maar die pa verstaan,
en die Vader verstaan, want wat gesug word, is in
ooreenstemming met wat God van daardie hart weet
en verwag. Soms is die gesug blote toegewyde stilte wat
“gepak” is met God se teenwoordigheid. Soms is dit
oomblikke van woordlose lofprysing. Soms is dit pynlike
petisies. En in dit alles klink die versugtinge van die Gees
saam met ons.

Dit is ‘n geheimenis. Maar dit is ook intense krag van God
se hart na ons hart, en van ons hart na God se hart, alles
deur die Gees. Kyk maar net op, of af, of na ‘n vaste punt,
of sluit jou oë en sug voor God. Laat jou emosie, lag of huil,
in Hom rus vind, en vrede...

Ernest