“Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie
en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees
ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God
laat roep: “Abba!” dit beteken Vader.” – Romeine 8:15.
Hierdie is regtig ‘n kragtige teks. Mense leef met soveel vrese.
Vrees is egter altyd spesifiek, in teenstelling met angs waar ‘n
mens die bedreiging aanvoel, maar nie altyd die rede ken nie.
Die vrees waarvan Paulus hier praat, maak van mense slawe
van die bepalings van die wet van ‘n wraakgierige God, slawe
van aaklige gedagtes van oordeel en mislukking, onwillige slawe
van die versoekings van die Bose. Want as die Bose selfs Jesus
in die woestyn nie met rus gelaat het nie, sal hy ons veral ook
nie in ons gemoeds-droogtes met rus laat nie.
Wanneer het ons ‘n slawe-mentaliteit in ons godsdiens?
Die volgende is tekens daarvan: Jy doen die minimum in jou
godsdiens. Net wat voorgeskryf word. Jy het geen persoonlike
liefde vir of verhouding met God nie. Jy kyk met hoeveel jy kan
wegkom. Jy moet net nie uitgevang word nie. Jy vermy gesprekke
met God. Jy vermy gebed. Jy werk vir beloning. Jy verwag straf.
En juis hierdie bogenoemde lei tot vrees.
Kinders van God, daarenteen, leef in ‘n verhouding van persoonlike
liefde en blydskap teenoor hulle hemelse Vader. Hulle spring elke
dag met geloofsvertroue in hulle Vader se arms in en roep... Vader!
Dit gaan nie vir hulle om beloning nie, maar om die Vader self!
Hulle verwag nie straf nie, maar vergewing.
En dit is juis hier, sê Paulus, waar die Gees van God insny met kalmte
en krag en die versekering dat ons kinders van God is! Selfs al koester
ons soms gedagtes van “onvergeetlike sondes”. Die Gees is soos
lewegewende asem, die ware lewegewende essensie van God self.
En waar God se Gees werk begin alles lewe, na liggaam en gees.
Die Heilige Gees is die Gees van geloof en hoop. Die Heilige Gees
bring genesing, ook van vrees! Die Gees laat ons roep na God as
ons Vader, en die Vader het raad! Veral ook met vrees!
Moenie meer of weer in vrees lewe nie!
Ernest