“Wie kan ons van die liefde van Christus skei?...” –
Romeine 8:35.
Karl Barth, die beroemde teoloog, se eerste groot publikasie
in die dogmatiek, was oor die brief van Paulus aan die Romeine.
Dit is die brandpunt van Paulus se denke. Die brandpunt van sy
geloofsekerheid. Dit is as’t ware die as waarom die evangelie
draai. Dit is ontsaglik om Romeine 8 te beredeneer, wat weer
die spilpunt is van die brief aan die Romeine. Hoofstuk 8 laat
jou sekerheid en troos beleef. Jy beleef die vredevolle en
jubelende stemminge uit die ewigheid. Die geheimenis van
die Gees. Die krag van God. Die liefde van Christus.

Van die liefde van Christus kan niks ons skei nie. Nie pyn of
lyding nie. Nie aanvalle van die bose magte nie. Nie die dood
nie. Of “hoogte of diepte of enige iets anders in die skepping”
nie – Vers 39. Christus sal die onbreekbare band van versoening
deur sy bloed stewig hou. Ons voel soms dat ons soos “slagskape”
behandel word. Bedreig, weerloos, en alleen. Die magte van
“teenswoordige of toekomstige dinge” laat ons soms voel soos
die volk Israel in ballingskap in ‘n vreemde land.

Maar nou: God is teenwoordig in Christus se liefde.
Die liefde van Christus vorm ‘n mistieke muur van beskerming.
Die liefde is die goue draad wat oor tyd en ewigheid span.
Dit is gelaai met God se teenwoordigheid. Niks wat tydelik of
ewig is kan dit verbreek nie. Dit kom na ons toe wat die kruis
aanvaar het. In hierdie daad van aanvaarding het God ons
opgetel en teen sy bors gedruk. Ons is nou meer as
oorwinnaars. Vrygespreektes deur God. Kinders van God!
Niks kan ons van Hom skei nie! Niks!

Ernest