“Kennis begin met die dien van die Here” – Spreuke 1:7.
Ons leef in die tyd van kennis-ontploffing in die wêreld.
Dit is eenvoudig onmoontlik om, selfs net in die wetenskap
waarin jy jou probeer ingrawe, by te bly. En “gewone dinge”
wat ons daagliks gebruik en benut vorder so vinnig in
ontwikkeling dat jy voel jy kan eenvoudig net nie bybly nie.
Dit is dan wanneer hierdie woord in Spreuke 1:7 jou nuwe
perspektief kom gee.

Anselmus van Canterbury het eendag skielik in die middel
van ‘n lesing vir sy studente gesê hulle kan maar gaan tot hy
hulle weer laat roep. “Want”, het hy gesê, “as ek julle wil leer,
moet ek eers weer by God gaan leer.” Ná meer as ‘n jaar was
hy weer terug vir sy lesings en het sy studente laat roep.
Sy studente was natuurlik baie opgewonde en wou weet óf,
en hóé, hy by God geleer het!? Sy antwoord was een kort sin:
“Ek het vir die hele tyd ‘n arm priester in die altaardiens gehelp”.

Om van God te leer is om doodgewoon besig te wees met die
dinge van God: Sy Woord, jou gedagtes oor Hom, jou eerlike
werk, jou dankbaarheid vir elke gewone dag en elke klein
dingetjie, jou gebede, jou diens aan Hom, én aan ander.
Anselmus het groot teologiese werk gelewer. Maar dit het
alles begin toe hy “van God wou leer.” Want kennis van God
begin met die dien van die Here!

Nou wat van alle ander kennis “sonder” God? Die wetenskap
“van die mens sonder God”. Alle ander kennis is uiteindelik in
terme van die ewigheid futiel en gebou op sand, “sonder God”.
Die filosoof Leibnitz het reeds in die 17e eeu geskryf:
“Nihil est sine ratione”- daar is niks sonder ‘n rede nie.
En hy stem saam met die Spreuke digter –
“Dit is God wat die absolute rede van alles is, en die kennis
van God is nie minder die begin van wetenskap as wat sy
essensie en wil die begin van bestaan is nie.”

Spreuke, en Anselmus, en Leibnitz sê vir ons dat ons as’t
ware eers ons verstand in ons hart moet “indwing”, want
die hart en gemoed voel die bewustheid en Teenwoordigheid
van God aan. Dáár begin alle ware denke: By die versugting
om God te dien. Daaruit vloei kennis van goed en kwaad.
Kennis wat met wysheid ineengevleg is. Kennis van God,
kennis van ander. Kennis van die skepping. Kennis van die
Bose.

En so, na alles, moet ons telkens weer teruggaan na gewone
altaardiens. Ons moet teruggaan na die eenvoudige handeling
van ons hande eerbiedig in gebed te vou: “Here Jesus Christus,
wees my, sondaar, genadig.” Dit stel álles telkens weer in
perspektief: Kennis begin met die dien van die Here.

Ernest