“Moenie ‘n weldaad weerhou van iemand aan wie
dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie”
– Spreuke 3:27.
Om ‘n weldaad te bewys aan “iemand wie dit toekom”
beteken om dit te bewys aan iemand wat dit werklik
nodig het. Moenie dit weerhou nie. Want daarin lê die
geheim van meedoen aan die liefde van God.
Jy sal ook daarin iets besonders van God ervaar as jy
dit doen.
Jy moet ook nie die een wat hulp soek eenvoudig net
wegstuur nie. Help dadelik “as jy nou reeds kan help” –
vergelyk vers 28: “Moenie vir iemand sê: “Gaan eers
terug en kom môre weer, dan help ek jou”, as jy nóú
reeds kan help nie. Daar is baie wysheid in hierdie
wysheid-spreuk, want ‘n mens kry soms agterna die
gedagte dat jy tog moes gehelp het toe jy kón.
Wanneer die kans verby is toe jy moes gehelp het,
is jy daarvoor dikwels baie armer in jou gemoed.
Die Griekse kerkvader Basileus het na gebed orals
gegaan en Christelike hospitale en weeshuise opgerig,
tot so ‘n mate dat ‘n hospitaal in Griekeland vandag
nog “Basilios” heet. Hy was na gebed eenvoudig oortuig
dat hy mense in nood moet help en dat hy dit pro-aktief
moes doen. Ons moet daarom ook mense in nood help
as ons nood raaksien, selfs nog voordat ons gevra word
om dit te doen.
Thomas Merton het gesê: Ons Christene moet leer om
nood in die oë te kyk, sonder om dit te probeer ontken
of te vlug. Ons wat Christus volg het die hoop van die kruis.
Om met dié hoop te leef te midde van die nood en pyn,
ook van ander mense, is die wildernis waardeur elke
Christen elke dag moet beur. Ons moet daardeur.
Maar ook dáár is Christus by ons, waar ons ander
moet help, deur ons weldade ter wille van die Here
en ons medemens.
Ernest.