“Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat
groei en sterker word tot dit heeltemal dag is.” – Spreuke 4:18.
Dit is ‘n baie mooi beeld wat hier gebruik word. Ons het almal
al dagbreek beleef. Eers kom ‘n mindere donkerte. Dit lyk of die
intensiteit van die donkerte minder raak. Dan word dit vinniger
ligter. En nog ligter, totdat jy die buitelyne van die berge sien.
Dan tint die horison met fyn verskuilde sonlig. Dan verskyn ‘n
klein skrefie van die son self. En dan, asof skielik en vinnig lig
die son homself sodat jy nie meer in hom kan kyk nie. Dis dag!
Maar steeds bly die dag groei in lig intensiteit. Die oggendlug
word warmer en die hitte intenser. So groei die regverdige!...
sê Spreuke.

Dit is ‘n mooi beeld van die een wat God in Christus dien.
Maar die Spreuke sê nié hiermee dat elke dag vir die “regverdige”
helder blou lug en ‘n vrolike sonskyn dag gaan wees nie. Ons, wat
onsself nouliks regverdig wil noem, ervaar ook die mistigheid en
swak lig, storms en reën, en wind, tydens sonsopkoms.
Dae wanneer ons stukkend die oggendlig aanskou. Iemand is wég,
in die nag... of ons staan op met pyn wat voorlê in die dag. God
beloof nie elke dag volmaakte dae nie. Ook wat die regverdiges
betref. Dit gaan oor die groter groei in die groter geheel van God
se plan wat tel. Daarin beleef ons soms onbegryplike paradokse,
ook as regverdiges. Maar ook deur hierdie paradokse van vreugde
en pyn, word alles helderder, soos met sonsopkoms. En namate
ons lewens-dag aangaan... en aangaan...

Maar is ons “regverdig”? Ja, ons is. As ons die Naam van die Here
aanroep in ‘n egte besef van weerloosheid. In ‘n diepgevoelde
begeerte om die Here te dien.
Martin Luther het gesê: “Die grond onder ons voete en die anker in
ons lewe is dat Christus ons enigste en perfekte regverdigmaking
en vryspraak is.” Amen!

Ernest