Spreuke 23:10: “Moenie grense verlê wat lankal daar is nie...”
Hierdie is ‘n spreuk wat versigtig en met wysheid toegepas
moet word.
Groot vordering is op alle gebiede gemaak, juis deur grense
voortdurend te verskuif. Dink maar aan geografiese grense,
denkgrense, aanbiddingsgrense, sosiale grense, grense in die
wetenskap. Deur navorsing en nuwe inligting word grense
voortdurend verskuif.

Die spreuk is egter meer van ‘n waarskuwing om goed na te
dink en seker te wees voordat jy net grense skuif. Dit geld vir
enige iets, van grondgebied tot nuwe denke. Soos met die res
van die Spreuke-boek, word wysheid gevra. Daar heers nou
nog oorloë oor grense wat selfs oor eeue geskuif is. Dink ook
maar aan denkgrense:
Daar is baie maklik gepraat van premoderne, moderne en
postmoderne tydsgees. Dit is gewoonlik gedoen met die
implikasie dat dringend vir die volgende ontwikkeling
voorsiening gemaak moet word. Ons weet ook dat hy wat
met die “tydgees” getroud is, gou ‘n verlate enkeling raak.
Net in afgelope dekades het “tydgees” verander van
imperialisties na nihilisties, na optimisties, na pessimisties
tydens die koue oorlog, tot optimisties oor “vryheid”, en toe
die vrees vir terreur...
Wie sy denkgrondslag na net een van dié skik, moet deeglik
besin. Die lewe en omstandighede bly verander in baie opsigte,
maar bly ook dieselfde in baie opsigte.

Bogenoemde spreuk wil sê: besin met wysheid. Te veel kan
in die slag bly met impulsiewe optrede. As jy ná deeglike oorleg
en biddende oorweging steeds nie seker is nie, bly by die
“ou grense” totdat jy seker is en met wysheid kan grense skuif.
Kyk in die proses verder as die “tydsgees”, verby tyd, na die
ewige plan en wil van God waarin die Gees jou sal lei om met
wysheid te leef en grense te verlê.

Ernest