“As ons lewe, leef ons tot eer van die Here;
en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here.
Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort
aan die Here.” – Romeine 14:8.
Mense praat dikwels van die lewe in negatiewe terme.
Dit is ‘n sloer-gang van dag tot dag, ‘n stryd, ‘n daaglikse
verveling, ‘n leë droom, ‘n langdurige verganklikheid.
Ander tye voel en beleef mense dit weer as ‘n juweel,
kosbare oomblikke, vreugde van liefde, positiewe
opgewondenheid.

Paulus sien alles, lewe en sterwe, uit die hoek van die Here.
Ons leef tot eer van die Here. Ons sterf tot eer van die Here.
En ons behoort aan die Here. Dit som ongeveer alles op.
Donker hartseer tye, en kosbare goue oomblikke. Dit plaas
ook onbetwisbaar die eiendomsreg van die geheim van
“lewe” in perspektief: Lewe behoort aan die Here! Ons,
behoort aan die Here.

Dit is een van die grootste troos-tekste in die Bybel.
Dit is die troos van die liefde van God en die eer om
iewers te behoort! Ons behoort aan God! Nog méér,
om in God se geselskap te hoort, om aan God te behoort.
Dit is die troos dat God werklik totaal omgee. Dit is soos
om in ‘n geliefde bekende huis ingenooi te word waar jy
waarlik en dadelik tuis en welkom voel, en weet jy kan
vir altyd daar bly. Dit is ‘n vreugde en ‘n belofte dat
alles sin het. Alles!
Dit is dikwels gehul in ‘n misterie, ja, maar ‘n misterie
gelaai met verwagting en beskerming. Dat selfs ons sterwe,
soms so hartseer en vol pyn, óók tot eer van die Here is.
Hy ontvang ons uiteindelik aan sy feestafel!

Ernest