“Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof
met alle vreugde en vrede vervul.” – Romeine 15:13.
Die brief aan die Romeine is ‘n sistematiese uiteensetting
van geloof in God. Maar namate die brief sy einde nader,
is dit of Paulus vroliker en sy gees ligter raak. Sy lang groete
boodskappe begin eintlik al hier in Romeine 15. Hy wys weer
daarop dat God die God van hoop is en dat Hy deur geloof
werk en “vervul”, soos vers 13 sê.
Paulus wens hulle vreugde en vrede toe, soos hy ook aan
die begin van die brief gewens het.

Hy wens die Romeine vreugde:Vreugde is nie net afhanklik van
uiterlike dinge nie. Vreugde laat ons ook soms trane stort oor
dinge wat intens innerlik aangevoel word. Dit beteken dat wat
ookal gebeur, ‘n mens in staat is om dit te hanteer met innerlike
kalmte en dankbaarheid. Ons vreugde is ook die bewustheid van
die teenwoordigheid van die Here, deur die kalmte van die Gees
wat in ons woon. Daarom kan dit vreugde wees, ook in die stort
van trane.
Johannes Calvyn het gesê:
“Daar is geen groter troos of vreugde nie, as die sekerheid dat
jy midde-in jou nood omsluit word deur die liefde van God.”

En vrede: Dit kom ook van binne, soos vreugde.
Vrede is nie bloot die staking van vyandigheid nie, maar ‘n
innerlike waardigheid en balans, en selfs aanbidding, wat die
Heilige Gees in ons bewerk. Dit versterk ons hoop, waarvan
bogenoemde vers 13 praat. Dante Alighieri het gesê:
“In God se wil is ons vrede.”
Jesus sê in Johannes 14:27: “Vrede laat Ek vir julle na;
my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee,
is nie die soort wat die wêreld gee nie.”

Wat is dit wat jou vrede steel?
“Wat is dit wat julle jul vrede ontneem? Armoede?
Verwaarlosing? Verwerping? Mislukking?
Is God se hande te klein om ook dít vas te hou?
Rus net in sy liefde.” – Francois Fénélon.

Vra die Here om hierdie vreugde en vrede vir jou te gee.

Ernest