“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop,
om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” –
Hebreërs 11:1.
Hebreërs is geskryf in moeilike tye, moedelose tye van vervolging
en verwarring. Jerusalem is reeds in 70nC verwoes deur die Romeine.
Die Hebreër skrywer, ‘n man wat die wysheid van God “deurgrond” het,
stel met sterk argumente uit die Ou Testament weer die feite van geloof
aan die gelowiges van Joodse afkoms in perspektief. Hoofstuk 11 is ‘n
belangrike, kort, oorsigtelike blik oor waar alles in Christus geanker is.
Hy sê die geloof is “om oortuig te wees van die dinge wat ons nie
sien nie”.
Nee... sê die ongelowige. Dít is te veel gevra! Die ongelowige sê:
Wat ek nie kan sien of beredeneer nie, bestaan eenvoudig nie,
en daarom ook nie God nie! Maar ons weet, iemand wat só sê,
en omgee vir die wêreld rondom hom, én beweer dat hy vir
“die beswil van die mensdom optree”, het dit nét so moeilik as wat
gelowiges dit soms het. Ateïste neem dit dan immers op hulself om
die wêreld te probeer red, en tot dusver lyk al hulle pogings hierin
maar beroerd.
Die gelowige sê: “Ek het lankal aanvaar dat ek nie myself kan red nie,
en beslis nie die wêreld kan red nie.” Dit is ook moeilik, maar ek aanvaar
dat ek meer as 90% van alles wat bestaan nie kan sien nie. Dit sluit God in.
Maar ek stel my in op ‘n aanvoeling en raak dikwels bewus daarvan dat
daar ‘n Teenwoordigheid is uit die ewigheid wat met my praat as ek stil
word en luister, wat ook deur die skepping met my praat, en deur mense,
en dat deur alles sý plan voorgaan met die wêreld, en met mý.
Daarom raak ek stil en stel my in op die Onsienlike:
“Ek is wat Ek is” – Eksodus 3:14.
Ernest