“Jesus sê vir haar: “Gee my ‘n bietjie water om te drink”
– Johannes 4:7.
Jesus en sy dissipels reis deur Samaria. Hy gaan sit by ‘n
historiese put en vra vir ‘n Samaritaanse vrou water om
te drink. Dit was ongewoon. Daar was gladnie groot liefde
tussen die Jode en Samaritane nie. Joodse mans van daardie
tyd het nie met vreemde vroue gepraat nie, en verseker nie
met Samaritaanse vroue nie. Verder weet Jesus van die vrou
se “sedelike” probleem. Maar Hy vra nogtans water om ‘n
gesprek aan te knoop.
Dit verbaas die vrou. Sy is daaraan gewoond om geïgnoreer
te word, veral deur haar dorpsgenote wat van haar vele
verhoudings met mans bewus was. Maar Jesus wil met haar
gesels. Doelbewus. Hoekom? Hoekom knoop Hy ‘n gesprek
aan met ‘n uitgeworpene? Die vrou is ook nie op haar mond
geval nie. Sy staan sterk in oortuiging oor die geloof van haar
vaders. Sy gee ook nie sommer toe in die argument nie.
Eintlik doen sy selfs beter in die argument as wat die
geleerde Nikodemus gedoen het.
Jesus ken haar omstandighede en weet dat sy waarskynlik
‘n behoefte, ‘n honger het, na aanvaarding, na geselskap.
Sy het ook ‘n sekere openheid vir oortuiging, al kom sy met
stewige teenargumente.
Eintlik werk dit altyd so. Dit is altyd God wat die gesprek
met ons begin, hetsy deur ‘n insident wat ons nie kan
verstaan of verwerk nie, of deur pyn wat “ondraaglik” is,
of verwerping wat ons beleef, of deur ‘n besef van leegheid
of skuld, of die belewenis dat niemand verstaan nie, of deur
blydskap selfs. Daar is baie moontlikhede waardeur God
met ons praat, en wag vir ons antwoord met woord en lewe.
Hoor jy die Here? Antwoord jy?
Ernest