“Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob
wat hierdie put vir ons gegee het nie.” – Johannes 4:12.
Dikwels wanneer mense oor persoonlike geloof in ‘n hoek is,
beroep hulle hul op die vaders, ‘n godsdienstige huis waarin
hulle grootgeword het, ‘n ordelike opvoeding en goeie dade.
Die Samaritaanse vrou doen dit ook. Sy speel die troefkaart
van “die vaders”. Voorvader Jakob, by name. Ons voorvader
Jakob het sus en so gemaak. Ons het die tradisie aan ons kant.
Die geskiedenis. Julle Jode sê sus, maar ons tradisie en
geskiedenis sê só.
Maar ver bo die tradisie, ver bo die geskiedenis, ver bo ons
prestasies, en ver bo ons mislukkings, is God! Hy het die
voorvaders gevorm en geken. Foute en al. Tussen deur
afdwaling en verwarring deur het Hy steeds sy gemeente gebou.
Ook uit vroue soos die Samaritaanse vrou, en die een wat sy
voete met haar trane gewas het.
Ons het almal soveel “vaders”, soveel tradisies, soveel
oorlewerings, soveel bande wat ons vasbind aan die verlede.
Dit is goed, want voorvader Jakob het ‘n geloof help vestig wat
uiteindelik in Jesus geopenbaar is. Maar dit is nie genoeg nie.
Jesus vra ‘n persoonlike gesprek en lewe saam met Hom.
‘n Persoonlike vertroue in die Vader. ‘n Persoonlike besef van
die afhanklikheid van God. ‘n Persoonlike erkenning van die
genade en vergifnis van God in jou eie lewe, in Christus.
Waarop bou jy jou geloof?
Ernest