“God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom
deur die Gees en in waarheid aanbid.” – Johannes 4:24.

Die Samaritaanse vrou by die put het gedink sy krap Jesus
se redenasie deurmekaar met ‘n strikvraag:
Waar moet ons God aanbid? Op hierdie berg of in Jerusalem?
Sy wil, soos haar vaders, God aan ‘n plek bind. Maar God is nie
plekgebonde nie. God is oral. Alomteenwoordig! Al praat ons
ook van God in menslike terme, God is geen mens nie en
menslike terme is bloot beelde om iets van Hom te verstaan.

God is ook nie gebind aan tyd nie en kyk nooit waar die son
staan nie. Hy beheer die son! God is alles en oral. God is ‘n
geheimenis, maar ook bekend. Hy openbaar Homself.
God is ‘n “raaisel”, maar ook ‘n ervaring. God is ongebonde,
maar tog ook aan ons verbonde. Alomteenwoordig, maar tog
ook altyd persoonlik naby. Ver anderkant die sterre, en tog,
ook in ons woonagtig deur die Gees. Totaal onbereikbaar vir
ons verstand, maar tog aanvoelbaar naby vir selfs ‘n kind.
Die Ewige wat ook plek vind in die tydelike.
Die on-formuleerbare... Gees. God is Gees, sê Joh. 4:24.

Dit is een van die grootste uitsprake van Jesus aan die mens:
God is Gees en moet deur die Gees aanbid word.
Ons “... moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”
Eintlik is dit God self wat deur ons bid, want wanneer ons bid...
pleit die Gees self vir ons met versugtinge wat nie met woorde
gesê word nie – Romeine 8:26. Ons self is eintlik tot niks in
staat nie. Slegs wanneer die Gees ons as’t ware op God se
golflengte instel, kan ons begin om “in waarheid” te aanbid.
Dit beteken dat God se woorde deur ons spreek, en God
spreek geen onwaarheid nie. Ook ons versugtinge word
deur hierdie waarheid gedra.

Ons verstaan daar min van. Eintlik niks nie. Maar ons weet:
in aanbidding is iets oorweldigends aan die werk. Vol krag.
Iemand met alle krag, wat ons sal dra deur alles in hierdie
lewe. Die Gees in ons en deur ons.
God is Gees. Aanbid Hom deur die Gees en in waarheid.

Ernest.