“Toe sê die eienaar van die wingerd: “Wat moet ek nou doen?
Ek sal my geliefde seun stuur. Miskien sal hulle hom ontsien.”
– Lukas 20:13.
Jesus som die gedrag van Israel op in die gelykenis van die boere
wat die wingerd gehuur het. Elke keer wanneer die eienaar van
die plaas iemand gestuur het om sy huurgeld te kry, het die boere
die slaaf geslaan, hom uitgelag en hom uit die wingerd gegooi.
Hulle het algaande begin dink en optree asof dit hulle eie wingerd is,
en hulle is aan niemand iets verskuldig nie. Hulle bestuur dit en
bewerk dit soos hulle wil. Die owerstes van die volk het dit in die tyd
van die profete geglo, en veral in die tyd van Jesus was die Fariseërs,
Skrifgeleerdes en priesterhoofde daarvan oortuig: Hulle godsdiens
en gebruike is húlle wingerd. Ander mense moet daar uitbly.
En veral die Man van Nasaret moes weg!
Volgens Jesus se gelykenis het die eienaar gereken hulle sal sy seun
“miskien” ontsien. Hulle het nie, en hulle het hom ook doodgemaak.
Maar God het geweet húlle sou sy Seun nie ontsien nie en Hom
verseker doodmaak. Die owerstes het dit ook geweet, want hulle
het gesnap dat Jesus juis húlle in die gelykenis bedoel het - vers 19.
Hulle wou Jesus summier arresteer, maar hulle was lafaards voor
die volk. Hulle sou uiteindelik ander agterbakse planne bedink...
Die wingerd wat van God gehuur is, is ook ons eie lewe. Die Here
soek erkenning van sy eienaarskap, al is dit net ‘n dankgebed, of
‘n erkenning van dankbare afhanklikheid van Hom. Dikwels ignoreer
ons die boodskappe wat die Here op baie maniere na ons stuur,
totdat ons boerdery op ‘n dag in ‘n oorlewingskrisis is en ons God
dringend soek...
In Dostojefski se groot werk, “Broers Karamasof”, sê Ivan sinies:
“As Christus vandag sou verskyn, sal ons Hom weer kruisig.”
Maar Christus kom verseker vandag na ons toe. Hy kom in liefde,
en al wat Hy vra is liefde. Hy kom ten spyte van ons power menslike
pogings... Soos ons die boek-merkie van ons kind waardeer wat in
graad een aan ons geskryf is oor liefde aan ons.
Ons kan maar net bid: “Here, aanvaar ons menslike power pogings...
en seën ons nogtans oorvloedig in U genade...”
Ernest