Johannes 6:35: “...Ek is die brood wat lewe gee...”
Jesus verwys na Homself as die brood wat lewe gee.
Dit is eintlik ‘n treffende beeld. Dink hieraan:
Hoe word brood gemaak? Waar kom dit vandaan?
Dink aan die proses... Koring groei op die land. Dan word
dit afgesny, gedors en tot meel gemaal. Dit gaan deur die
vuur van die oond, en word dan versprei na waar dit geëet
word. Slegs deur hierdie proses kan brood regtig brood word.
Elke stap is noodsaaklik. As jy nie plant nie, het jy nie koring nie.
As jy nie dors nie, het jy nie meel nie. As die deeg nie deur vuur
gaan nie, het jy nie brood nie. As jy dit nie versprei nie,
kan mense nie eet nie. Alles in die proses is noodsaaklik.
Dink nou aan Jesus. Hy het grootgeword “... soos ‘n loot wat
voor die Here uitspruit...” – Jes. 53:2. Een van die gewone seuns
in Nasaret. As jy Hom as jong Seun gesien het, sou jy nooit kon
dink Hy is die Seun van God nie. Hy was een van baie gewone
seuns in Israel... op die oog af. Soos ‘n koring-plant in ‘n koringland.
Maar soos koring is Hy afgesny. Soos ‘n koringkorrel is Hy gestamp
en gemaal. “Oor óns oortredings is Hy deurboor, oor óns sondes is
Hy verbrysel...” – Jes. 53:5. Soos brood moes Hy ook deur die vuur.
Aan die kruis is Hy deur die vuur van God se toorn.
Ondenkbare vuur... Vir ons sonde. “... Die Here het ons almal se
sonde op Ho laat afkom” – Jes. 53:6. Só het Christus die brood
geword wat lewe gee. “Moes die Christus nie hierdie dinge ly
om in sy heerlikheid in te gaan nie?” – Luk. 24:26.
Neem die brood, dink daaraan, en glo...
Die laaste deel van die brood, die verspreiding, laat Christus
aan ons oor. Ons is die verspreiders, die getuies.
Hoekom is ons so traag hierin? Is jy traag hierin?
Hoekom?
Ernest