Die meeste van ons wat hier lees ken moontlik
Johannes 3:16 uit ons kop. Maar wat van vers 17
wat daarop volg: “God het nie sy Seun na die wêreld
toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar
sodat die wêreld deur Hom gered kan word.”
Hierdie woorde van Jesus aan Nikodemus is juis ‘n
bevestiging van vers 16: God het die wêreld so
liefgehad... en dadelik voeg Jesus by dat sy koms
nie met veroordeling te doen het nie. Die mens
wie nie Jesus aanvaar nie, veroordeel immers
homself.
Jesus se koms gaan oor die redding van die wêreld!
Onlangs het ‘n bekende sakeman weer gesê
“godsdiens is ‘n ontvlugtings-meganisme”. Dit is,
volgens hom, ’n verbeelde manier van ontsnapping
aan die moeilike werklikheid. Kommunistiese leiers
het dit ook by geleenthede gesê. Die ironie is juis
dat dit in ‘n sekere sin reg is, maar nie soos
bogenoemdes dit in ‘n siniese sin bedoel as fiksie nie.
Jesus is ontvlugting uit ‘n chaos van sinloosheid, uit ‘n
vakuum van niks, ‘n redding uit ‘n veroordeling tot ‘n
bestaan wat geen punt of rede het sonder Hom nie.
Die beste oomblikke wat ons as mense kan beleef,
wat “die wêreld” kan beleef, is om aan onsself te
ontvlug om werklik onsself in God te vind, en te word.
Bloot om aan geloofsfeite te begin vasklou sonder om
noodwendig verklarings te soek. Dit is immers ook wat
geloof is: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge
wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat
ons nie sien nie.” – Hebreërs 11:1.
So ‘n aanvaarding is die eerste stap in die belewing
van die ware Werklikheid, met ‘n hoofletter,
wat daaragter lê: Jesus het gekom! Jesus leef!
God vergeef! God red! Amen!
Ernest