Kersfees... Dit is byna ‘n belewenis van God in Christus
se verlange na óns, vir wie Hy so lief is. Kan jy dit glo?
Ons wat so vol krake en breuke is. Net God kan ons so
liefhê. Ons wat so menslik kla oor alles. Ons wat so
meegevoer luister en tog so verregaande van Hom vergeet.
Ons wat aanhou gunste van Hom vra. Ons wat sonder Hom
niks is nie. Hy kom na óns met sy koms na die wêreld!
Hy kom na ons in Kerstyd. Hoe kan ons die grootheid
daarvan ten volle begryp? Nie in derduisende preke nie...
omdat ons dit uiteindelik net kan beleef...

“En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here,
ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my
geringheid omgesien het...” – Lukas 1:46-48.

Die grootste kosmiese gebeure sedert die skepping was
aan die gebeur in die skoot van ‘n tiener meisie van Nasaret!
Dit is so dikwels God se metode. Hy begin mikroskopies klein,
soos ‘n saadjie in die natuur, en dit word ‘n woud wat die aarde
oortrek. Elkeen wat van God net groot dinge soos sterre en
komete verwag, of groot en dramatiese ingrypings om ons
met ons persoonlike probleme te help, moet onthou dat sy
groot reddingsplan in ‘n weerlose baba begin ontwikkel het.

Sy Seun, met die volle Goddelike patroon in Hom, sou mens
word soos ons almal mens word: in ‘n moederskoot. Dikwels
begin God “klein en onbenullig” met alles wat Hy met ons doen,
maar agterna sien ons sy vaste hand wat presies geweet het
wat Hy doen. En dan sê ons verwonderd saam met Maria:
God is wonderbaar!

Ernest