Die meeste van die tyd is ons probleme doodgewone “rampe”.
Dit is nie ‘n dilemma van nasionale omvang of ‘n wêreld krisis nie.
Dit is eerder klein klippies in ons skoen as rotse wat op ons val.
Ons vergeet iets. Ons is laat vir ‘n afspraak. Ons sit vas in die verkeer.
Ons “rampe” is meestal nie lewensbedreigend nie.
Daarom is dit betekenisvol om te sien hoe Maria, die moeder van Jesus,
reageer het toe die wyn opraak by ‘n bruilof. Johannes 2:3: “Toe die wyn
opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.” Net dit.
Dit is al wat sy gesê het. Sy het eenvoudig vasgestel wat die probleem is en
dit vir Jesus gegee.
John Dewey het gesê: “’n Probleem wat goed geformuleer is, is reeds
halfpad opgelos.” Dit is wat Maria doen. Sy het nie iets te sê oor swak
beplanning, of wie se skuld dit is, of dat mense nooit iets reg doen nie,
en dat jy dit eerder self moet doen nie... Sy stel vas wat die probleem is
en gee dit vir Jesus, selfs voordat sy dit na enige iemand anders neem.
In ons alledaagse “rampe” dink ons dikwels aan gebed as die laaste uitweg,
eerder as die eerste stap. Is dit omdat ons onafhanklik voel, of niksbeduidend?
Ons dink ons is onafhanklik en groot genoeg om ons eie probleme op te los.
By ander geleenthede voel ons niksbeduidend. Ons dink ons probleme is te
klein vir die Here om Hom daarmee “besig te hou”. Die laaste ding waaroor
ons moet bekommer is dat ons vir die Here ‘n “oorlas” is. Deel alles van jou
lewe met die Here en al waarop jy hoef te konsentreer is om te doen hoe Hy
jou lei om te doen.
Let op die volgorde van gebeure in die verse wat volg: “Jesus sê toe vir die kelners:
“Maak die kanne vol water.” Hulle het dit tot bo toe volgemaak. Toe sê Hy vir hulle:
“Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester”. Hulle het dit
gedoen. Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die
kelners wat die water uitgeskep het, het geweet...” – Joh. 2:7-9. Let op:
die kelners het water uitgeskep.
Sien jy die volgorde: Eers is die kanne vol water gemaak. Toe het Jesus vir die
kelners gesê om die water (nie die wyn nie) vir die seremoniemeester te gaan gee.
Dink daaroor: As jy ‘n kelner was, sou jy dit doen? Hoe sou dit die probleem oplos?
Wat sal die seremoniemeester sê as jy vir hom water gee? Hierdie kelners het óf
genoeg naïwiteit, óf genoeg vertroue gehad om te maak soos Jesus sê, en die
probleem is opgelos! Let op dat die water eers wyn geword het nadat hulle
gehoorsaam het! Nie voor dit nie.
Wat as die kelners geweier het? Om dit nog persoonliker te stel: Wat as jý weier?
Wat as jy die probleem identifiseer, dit na Jesus toe neem, en dan weier om te
doen wat Hy sê? Dit is moontlik. Per slot van sake, God vra van jou om ‘n paar
moedige stappe in vertroue te neem. Geld is skaars, maar Hy vra steeds dat jy jou
tiende gee. Jy is te na gekom, maar Hy vra steeds dat jy moet vergewe. Iemand
anders was verantwoordelik vir die “ramp”, maar Hy vra steeds dat jy geduldig
moet wees. Jy kan God nie sien nie, maar Hy vra steeds dat jy moet bid.
Hy sal dit nie van jou vra as Hy weet jy kan dit nie doen nie. Wanneer jy weer ‘n
doodgewone “ramp” in die gesig staar, volg die voorbeeld van wat by hierdie
bruilof gebeur het:
1. Identifiseer die probleem. Dan is dit reeds half gewonne.
2. Neem dit na Jesus toe, want Hy wil graag help!
3. Doen wat Hy sê. Maak nie saak hoe onsinnig dit klink nie.
Vertrou Hom!
Ernest