“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem
hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam
met hom die feesmaal hou. En hy saam met My.”
– Openbaring 3:20.
In die 19e eeu het ‘n seilboot een aand by Bristol gestrand.
Die bemanning van twee het ter nouernood aan die dood
ontkom op ‘n onherbergsame kus. Hulle was nat, koud en
honger, en het in die donker gestap totdat hulle ‘n liggie in
die verte gesien het. ‘n Boer het ‘n venster van sy huisie
oopgemaak en hulle sien bibber in die wind en koue. Hulle
wou hul graag droog by die vuur en net iets eet en drink.
Die boer het hulle toegang geweier omdat hy nie
vreemdelinge in sy huis toelaat nie. Hy het hulle na ‘n
gehuggie beduie, myle verder.
Later het die boer en die gemeenskap uitgevind dat die twee
mans die destydse prins van Wallis, toe reeds ‘n vlootoffisier,
en sy neef was. Later sou die prins koning George V word, die
sogenaamde “sailor king”, ‘n dapper matroos en geliefde koning.
Die aand van die storm het hy aan ‘n deur geklop en ‘n plekkie
by ‘n vuur gesoek. Dalk, wie weet, het die boer later skaam gekry
oor sy behandeling van die toekomstige koning.
Jesus sê in Openbaring 3:20 aan die gemeente van Laodisea dat
Hy so by hulle deur kom staan en klop. Hy kom staan ook so by
ons deur. Hy forseer nie die deur oop nie, al is Hy die Koning van
die heelal. Hy stamp nie die deur nie. Hy ruk nie daaraan dat die
kosyne bewe nie. Hy klop soos ‘n heer... Hy is die Heer van die
heelal. As Hy nie ingenooi word nie beweeg Hy aan.
In Holman Hunt se beroemde skildery in die St Paul’s katedraal,
van Jesus met sy lampie wat aan ‘n deur klop, het die skilder self
die onderskrif aangebring: “Gaan My nie verby, o Heiland”.
Daar is ‘n pleit daarin. Maar ook ‘n versekering. Dit is ook ‘n
waarskuwing, en ‘n belofte, van ‘n feesmaal. Jesus kom klop by
ons almal se lewe. Vandag, en elke dag. Maak oop die deur!
Hy is immers die ewige Koning!