God se heiligheid vul elkeen wat dit ervaar met ‘n gevoel van
onheiligheid. Kyk maar net na iemand soos Petrus. Toe hy die
eerste keer besef het wie Jesus regtig is, het hy soos ‘n dooie
aan sy voete neergeval en gesê:
“Gaan weg van my af, Here. Ek is ‘n sondige mens.”
– Lukas 5:8.

Wanneer heiligheid en onheiligheid op dieselfde moment op
dieselfde plek is, moet onheiligheid wyk, padgee, bely word.
God se heiligheid verteer mense. Dit laat diegene wat agterkom
wie Hy is, besef hoe vuil en lelik hulle lewe eintlik is.

Het jy al ooit begryp in wie se teenwoordigheid jy regtig is as
jy voor God staan? Dink net aan Moses. Toe God daar op die
berg aan hom verskyn het, kon Moses vir net ‘n paar oomblikke
voor Hom staan. Dit het hom soos ‘n riet in die wind laat bewe.
Die Israeliete het ook die skokgolwe van die ontmoeting belewe.
Hulle het in groot eerbied gebuig toe God se heiligheid die berg
oorspoel het.

Dit het ook Petrus in bogenoemde teks laat besef dat hy ‘n
sondige mens is. Uit jou eie het jy niks om aan te bied nie, as net
jou eie onheiligheid. Jou sondes maak dat jy wil doodgaan van
skuld en skaamte as jy in die heilige teenwoordigheid van God
kom. En tog...

En tog vul God se heiligheid jou ook met die diep verlange na
Hom! Aan die een kant wil jy saam met Petrus vir God sê om
weg te gaan van jou af want jy kan nie sy heiligheid absorbeer
nie. Dit is te veel vir jou. Jy kan nie op dieselfde tyd op dieselfde
plek as Hy wees nie. Aan die ander kant smeek jy dat Hy asseblief
tog nie moet weggaan nie, want sonder Hom is daar geen lewe
vir jou moontlik nie. Jy wil aan Jesus se soom vasgryp en by Hom
pleit om by jou te bly.

Die heilige God se teenwoordigheid ruk jou wanneer jy jou eie
menswees ontdek. Dit verander jou radikaal in hart en siel.
Meer nog: Dit laat jou besef én jou God raaksien as die Heilige,
maar ook as die Genadige, want Hy, die Allerheilige, buig juis
éérste laag af na jou, in jou onheilige toestand!

Ernest.