Integriteit hardloop nie agter die openbare erkenning
van mense aan nie. Integriteit gebeur meestal in stilte,
daar waar niemand jou kan gelukwens oor die “mooi”
dinge wat jy gedoen het nie. Mense met integriteit
maak nie ‘n ophef van hulle eie geloof en geloofsdade
nie. Hulle probeer nie ander oortuig watter voortreflike
gelowiges hulle is nie. Hulle help ander mense stilweg
en aanhoudend.

Matteus 6:1-2:
“Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom
om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen
beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.
As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie...”.

Integriteit-mense se linkerhand en regterhand weet nie van
mekaar nie. Jesus sê so in Matteus 6:3-4: “... as jy iets vir die
armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand
doen nie, sodat jou goeie dade verborge kan bly. Jou Vader
wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

Hoekom is dit so? Geloof is tog nie ‘n geheime affêre nie.
Dit is waar, ja, ons moet ons nie skaam vir ons geloof nie.
Maar ons loop nie en spog met ons dade van geloof nie.
Dan draai ons die kollig na onsself. Geloof is nie om jou eie
vroomheid te adverteer nie. Geloof gaan eerstens oor God
en ander mense.

Integriteit is om jou beheptheid met jouself te laat vaar en
op stil sendings vir die Here uit te reik na mense met sy liefde
en gawes wat Hy gee. Geloof is nooit ‘n openbare vertoning
nie. Al wat saak maak is God se erkenning en goedkeuring
van jou geloofs-dade.

Integriteit vra veral deernis met ander mense se swaarkry.
Mag die Here ons oë en hande daarvoor oopmaak. Mag ons
salf aandra vir die seer van mense na liggaam en gees.
As kinders van die Here is ons God se verteenwoordigers
hier op aarde. Ons weerkaats God se goedheid, sy genade,
en liefde. Ander mense moet in ons iets van God se
ontferming sien en ervaar. Leef daarvoor,
en weerkaats Hom!

Ernest