Moenie dink dat jy eintlik nie “iets goeds” vir die Here kan doen nie,
en dat jy eintlik te sondig is daarvoor nie. Dit is ‘n leuen van die duiwel
self om jou uit rat uit te haal vir die koninkryk van God!
Moenie jou geestelike swakhede van vroeg tot laat bekla soos
gelowiges soms doen nie. Die regte weg is die weg van doelbewuste
toewyding aan God! Dan sal daar verseker geestelike vordering in jou
verhouding met die Here wees, want HY doen dit. Hy werk in jou,
selfs as jy nie eers bewus is daarvan nie, of selfs ook nie so voel nie.
Hy los jou nooit nie.

Dit is juis wat gebeur in 2 Korintiërs 7 waar Paulus beskryf hoe die
Korintiërs gevorder het op die Here se pad, waarskynlik sonder dat
hulle dit self agtergekom het. Paulus het egter die verskil opgemerk!
Hy het dit selfs aan sy eie lyf beleef.
Op ‘n stadium, vroeër, was die verhouding tussen hom en dié
gemeente gespanne. Dit was so sleg dat hy op ‘n punt na ernstige
konflik met sommige gelowiges onverrigter sake moes vertrek –
2 Kor. 2.
Hy het hierna deur middel van sy helper, Titus, ‘n brief aan hulle
besorg om hulle te vermaan! Die uiteinde was dat die Korintiërs
vol berou was!

In 2 Korintiërs 7:11 beskryf Paulus dan hoedat die gelowiges in
Korinthe geestelik gegroei het as gevolg van die krisis waarin
hulle was. Kyk net hoe treffend beskryf Die Boodskap dit:
“Julle geloof is nog sterker as ooit tevore. Kyk net watter nuwe
kenmerke is daar in julle lewe: Julle is ... bereid om standpunt in
te neem vir die waarheid. Sonde vul julle met meer afsku...
Julle het ook groter respek vir God. Julle is yweriger om God te
dien en te doen wat Hy vra. Julle is ook ... bereid om teen sondes
op te tree...”

Dit is belangrik wat hier gebeur het:
Die Korintiërs was bereid dat God se Gees hulle lewe aanraak
en hulle nuut maak. Daarom het hulle geestelike vordering gemaak.
Selfs die apostel Paulus kon dit sigbaar raaksien.
Ons moet uit hierdie gebeure leer:
Volhard op die Here se pad!
Selfs al sien jy nie jou eie vordering nie!
God sorg vir die resultate op sy tyd en wyse!

Ernest