Lees Matteus 22:37-40.
Lojaliteit en omgee is eintlik ook ander woorde vir liefde.
Die Griekse woord wat die meeste gebruik word vir liefde in
die Nuwe Testament, “agape”, beteken ook lojaliteit en omgee.
Vir die meeste van ons sê liefde iets van ‘n gevoel wat jy ervaar.
Ons assosieer dit dikwels, eintlik meestal, met emosies, met ‘n
opwindende gevoel in ons hart. Maar liefde, in die Bybelse sin
van die woord, lyk baie anders, en is meer as dit. Dit sluit wel
ook gevoelens in. Maar liefde is baie meer as gevoel.
Gevoelens is bedrieglik. Een dag voel ons goed en die
volgende dag is ons omgekrap. Emosies is wisselvallig.
God se liefde skommel ons nooit rond nie. Dit is nie
wisselvallig nie.

Die Nuwe testament verstaan liefde as ‘n ingesteldheid.
‘n Lewenshouding, en dade van ontferming teenoor ander.
Liefde is om onvoorwaardelik om te gee. Maak nie saak hoe
jy voel nie. Liefde is om lojaal te wees teenoor God en
teenoor almal wat aan God behoort. Maar liefde is óók
om goeie dade te doen vir hulle wat nog nie deel uitmaak
van God se nuwe familie op aarde nie!

Liefde loop altyd oor in dade wat gelaai is met medelye.
In hierdie sin is liefde ook gevoelens. Liefde laat jou hart
klop vir mense wat God oor jou pad stuur. God se liefde
verander jou gedrag. Dit verander verál jou gedrag!
Jy tree anders op teenoor mense omdat jy ontdek hoe
God se hart vir hulle klop. Ons wag nie eers totdat ons
vir mense iets “voel” voordat ons vir hulle iets doen nie.

Liefde wat God van jou vra teenoor jou medemens is nie
afhanklik van jou gevoelens nie. Liefde is dade wat God
van jou vra, al stem jou emosies nie lekker saam nie.
Jy doen daarom selfs goeie dinge vir mense van wie jy niks
hou nie. Dit is lojaliteit en omgee wat God van jou vra.
Dit word sigbaar. Jy wys liefde. Jy leef liefde.
Jy eer God daarmee!

Ernest